Hierdie is een van my gunsteling stories omdat so tipies is van my familie. My neef het dit vir my vertel by my oom, sy pa, se begrafnis.

Dit was baie jare terug en een vakansie is al sewe kinders op die plaas. My oom (my neef se pa) en een van my ander ooms was in die weermag daardie tyd, en hulle het leer rook daar. (As ek die storie so kyk, is rook ʼn familiekwaal, maar ek het dit gelukkig nie gekry nie).

Soos die vakansie verloop het, het hulle agtergekom iemand steel hulle sigarette. Hulle vermoed toe dat een van die ander kinders skelmpies gerook het, maar nie eers vir hulle eie sigarette wou betaal nie. Toe beraam my twee ooms ʼn plan.

Hulle vat toe ʼn paar sigarette en hol hulle uit, en hulle druk ʼn klapper by elkeen in. Daai tyd was daar sulke dun klappers, omtrent die helfte dunner as ʼn sigarette, en ook korter. Nadat die klappers ingesit is, is die sigarette versigtig weer opgevul met tabak, sodat niemand onraad vermoed nie. Hulle het daardie pakkie ‘spesiale’ sigarette laat rondlê sodat die dief dit kon kry.

Volgens die storie hoef hulle nie lank te gewag het nie, want kort voor lank het hulle ʼn knal gehoor – uit die badkamer. Hulle gaan kyk toe wie die dief is, en wie sit toe met oë groter as Kimberley se gat op die troon?

My ouma.

Nou, ek rook nie, maar ek dink vir enige roker is daardie eerste trekkie die ene saligheid. Dis seker soos my eerste slukkie koffie in die oggend. Bygesê, my koppie koffie het nog nooit opgeblaas in my gesig nie, so ek wil nie weet hoe het ouma gevoel toe die kankerstokkie in haar niksvermoedende gesig ontplof het nie. Dis maar ook ʼn goeie ding sy het op die toilet gesit, want ek sou met vuil klere rondgeloop het andersins.

Ek dink tog as enigiemand ʼn sigaret verdien het, was dit my ouma. Sy het vir alle praktiese doeleindes sewe kinders vrou-alleen grootgemaak. Oupa was altyd besig op die plaas of hy het gaan jag met pelle. Sy het ook vir ʼn lang tyd na haar sieklike skoonouers gekyk.

Ouma was moeg en wou net ʼn paar minute alleen gehad het met ʼn sigaretjie. Ai, en toe doen die kinders dit aan haar.

Ek het nie regtig my ouma geken nie, want ek was baie jonk toe sy oorlede is. Ek het net gehoor sy was redelik prim and proper, en ʼn gerokery het nie by ʼn dame van daardie tyd gepas nie.

Dit is tot daar wat ek die storie ken. Ek weet nie of sy my ooms gestraf het nie, maar ek is oortuig daarvan dat my oupa hom byna vrek gelag het toe hy die storie hoor.