My pa-hulle was sewe kinders wat in die sestigs op ʼn plaas naby Kuruman grootgeword het. My pa was in standerd 3 (graad 5) toe hulle elektrisiteit op die plaas gekry het (oupa was maar suinig), en daar was nog nie televisie nie. As die kinders nie gewerk het nie, het hulle op iemand se senuwees gewerk. Ai, en kattekwaad was volop – gewoonlik op ʼn Sondagmiddag.
My pa het vertel:
Weet jy, ek het nooit Sondagmiddae geslaap nie. Ek slaap nou nog nie op ʼn Sondagmiddag nie. Sondagmiddae was ek op my uitgeruste gewees en jou tannie Liezel ook.
Ons het daar by die groot windpomp op die plaas, daar waar die koelkamer is, die skape altyd geslag. Dan vat hulle die skaap en druk hom met die knie teen die nek en sny die skaap se keel af. Daar lê die skapie dan en die bloed pomp.
Hulle het gewoonlik ʼn gat gegrawe in die sand en dan loop die skaapbloed daarin. Dit was so liter, miskien twee liter bloed. Dan maak dit so korsie bo-op maar dit bly lank sag onder – maklik ʼn dag of twee. Dan word die bloed daar gelos. Ek weet nou nie eintlik hoekom nie, maar dis mos nou buitekant, so dit maak nie saak nie.
Ek en Liezel ontdek op ʼn Sondagmiddag so ʼn gaatjie vol bloed, en my ma en pa slaap. Ons dog toe ons gaan my ma ʼn bietjie skrik maak en ons smeer mekaar vol van daardie skaapbloed. Ons gaan lê toe in die gang, maar my ma kom kyk nie vir ons nie. Hel, maar ons moes huil, hoes en skop op die vloer.
Later staan sy maar op en sy sien ons is vol bloed. Sy dog eers iemand het ons aangeval en keel afgesny. Sy het haar wit geskrik. Ek weet nie hoe nie, maar sy het vinnig agtergekom dis skaapbloed.
Ek sê vir jou ons het darem ʼn bul pakslae gekry daai Sondagmiddag.
Ek weet nie of die volgende storie ook op ʼn Sondagmiddag of aand plaasgevind het nie, maar soos ek die klomp ken, was dit seker.
My pa het vertel:
Jy weet, jou tannie Elna was stout. Sy het my en die ander getreiter, iets vreesliks.
Onthou nou net, daai tyd het ons nog net lampe en kerse gehad vir lig in die aande. So het Elna by die skool gehoor as jy jou vingertjie in botter druk en op die venster ʼn gesiggie teken, dan kan jy dit in die aand in die lamp se skynsel sien.
Natuurlik teken sy so gesiggie op die venster langs die eetkamertafel, maar net sy weet van hom, jou tannie Marie weet van niks nie.
Jong, en sy en Marie is badkamer toe en hulle kom terug eetkamer se kant toe. Sy het seker ook darem voor die tyd seker gemaak die gesiggie het die regte voorkoms. En so kom hulle in die eetkamer en Elna wys vir Marie die gedrog teen die venster. O en jou tannie Marie was ʼn polisiefluitjie. Toe gil sy die koue weer uit.
Nou onthou, my pa kon nie loop nie, hy het met kieries geloop. Teen daardie tyd van die aand was hy ook al in die bed. Maar hy het gehoor hier is nou groot nood. Toe staan hy op uit die bed uit met sy twee kieries en hy loop in die gang af om te gaan kyk.
Maar onthou ook, daar was nie matte nie. Daar was net plankvloere en die gang het ʼn tapyt oor hom gehad. Daar trap hy in ʼn duwweltjie. Jong, en daai ding steek hom tot in die lewe in. En o, dis bitter seer!
Met al die opwinding sien hy dat daai spokie by die venster baie stil staan. Hy vind toe uit Elna het die ding geteken, en hy sit met ʼn doring wat hom tot in die lewe in sy voet gesteek het. Hy was darem baie vies gewees daaroor.
Daar is ook geen rus en vrede vir jou op ʼn Sondagmiddag (of enige ander middag) as jy kinders het nie.