Ek het ʼn oom Ben gehad, maar hy is oorlede lank voordat ek nog ʼn gedagte was. Hy was ʼn slim man en soos die res van die familie het hy ook van kattekwaad gehou.

My pa het vertel:

Oom Ben was mos ʼn ingenieur en hy het allerhande goedjies gemaak. Toe maak hy ʼn plaat met die telefoon se magneto daaraan vas, en as jy hom in die rondte draai dan so een keer op ʼn revolusie stoot hy ‘n lelike vonk uit.

Ek weet ons klomp het so gesit en hande vasgehou en dan draai iemand die ding al vinniger en ons kyk wie kan later nie meer vashou van die skok nie.

Maar in elk geval, ons het vir die hoenders van die suur melk, dis nou melk wat dik geword het, gegee. Een keer het ons dit op Ben se plaat gegooi. Dit was sommer baie suur melk en het baie goed gelei.

Die hoenders eet te lekker aan die suur melk, en hulle pik dat dit bars. Maar onthou nou, daar gaan net een slag op elke revolusie ʼn skokkie deur, nie die hele tyd nie.

Toe kom die haan nader en hy stamp al die hoenders weg om darem alleen van die lekkerte te eet. Hy het baie lekker gevreet en toe op ʼn kol, toe hy pik, toe pik hy daardie stroom raak.

Toe het by ʼn lelike skree gegee en so in die lig gespring en ʼn bollemakiesie gemaak. Hy het toe so met sy rug binne-in daardie melk geval. Hy het vinnig daar opgespring en gehardloop.

Toe was hy sommer nie meer lus om verder te vreet nie.

Maar ek dink nou sommer aan ‘n ander storie. Jy weet, ‘n kind en kattekwaad is sinoniem, veral as hulle verveeld op ‘n plaas is.

Een middag was ons verveeld en toe besluit ek en jou oom Ben ons gaan ʼn foefie slide maak.

Die foefie slide was omtrent daar van jou oom Renier se huis af so na die strooise se kant toe. Daar was ʼn groot kameelboom gewees. Toe maak ons die foefie slide uit daai boom uit met ʼn lang draad, seker 50 meter, sommer ʼn bloudraad, so na ʼn ander boom toe.

Dan gly jy af, maar jy moet die laaste entjie hardloop met jou voete, anders gly jy teen die boom vas. Weet jy, so speel ons en die draad raak al papper. Een van Ben se pelle het later daar opgedaag en toe speel hy sommer saam.

Jy moes mooi in daai boom klim, want onder die boom was daar ʼn wag-’n-bietjie bos. ʼn Wag-’n-bietjie bos is soos ʼn haakbos, maar hy het nie sulke erge dorings nie, maar hy het ook gawe dorings.

Toe het die vriend kom saam gly. Ben sê toe vir hom as hy bo kom dan moet hy sy arms so onder sy knieë deur druk, en dan moet hy so af gly. Jy weet, dan hang jy met jou rug na die grond toe, en ek self het ook ʼn paar keer so afgegly.

Toe die vriend die volgende keer so moet afgly, het hy nog nie eers ʼn halwe meter beweeg nie, toe breek daardie draad. Daar val hy omtrent so hoog soos die dak, seker so twee meter.

Hy val toe op sy rug, binne-in daai wag-’n-bietjie bos. Toe is die draad gebreek en die kind verniel.

Ek dink nie ons het verder gespeel daarna nie.