Die lewe is vol misverstande, misgissings, en soms ook dinge wat nie presies gebeur het soos jy dit onthou nie. Ek en my pa het stories van elkeen.

My pa het vertel:

Daar was ʼn ou, oom Louis, wat saam met my gewerk het ʼn paar jaar terug, maar hy het ongelukkig vreeslik gehakkel. Hy was ʼn mechanic en hy het nogal sy storie geken.

In elk geval, een dag kom daar ʼn ou daar aan met ʼn bus en die ou hakkel ook, maar die twee ken nie mekaar nie. Jy weet, nie een van hulle weet dat die ander hakkel nie.

Daar loop oom Louis na hom, en vra, “K-k-kan ek jou help?”

Daardie man klim daar uit die bus en sê, “Die b-b-bus”.

Toe kyk Louis hom so en hy maak sommer vuiste, “S-s-spot jy my? Ek bliksem jou sommer!” Hy raak toe sommer luidrugtig.

Die mense moes mooi praat, want hulle het baie amper lelik baklei.

Maar ou sus, daar is ʼn ander storie oor ʼn ou wat hom lelik misgis het.

Die ouens het gaan jag daar in die Kalahari en die aand toe sit hulle om die braaivleisvuur en drink brandewyn en elkeen het ʼn trick. Die een kan dit doen, en daai een kan dat doen.

Die een ou sê toe dat hy vreeslik slap is, maar toe is hy al ʼn groot man van in die vyftig. Sy trick is dat hy sy been so oor sy nek kan sit, jy weet, so agter sy kop. Daar sit hy toe sy been so oor sy nek, en almal drink brandewyn en hy het die been so oor die nek en dit hang aan die ander kant af. Almal dink toe dis baie snaaks.

Later toe hy sy been wil afhaal, toe het sy heup uitgelip en hulle moet met hom hospitaal toe ry. Hulle het darem eers self probeer om die heup weer in te druk, maar die ou het soos ʼn maer vark geskree en dis toe dat hulle besluit het om hom hospitaal toe te vat.

Ai, maar dit was net die begin van sy probleme.

Soos hulle ry, het die oom gesit en huil, want dis vreeslik seer. Onthou nou, daar is baie brandewyn gedrink en dan moet daar gestop word want die oom moet water afslaan. Nou kan jy dink, hoe moet jy dit doen as jou been so agter jou kop is?

Toe moet die ouens hom dra en regop hou, en help om alles te doen. Dit was konsternasie gewees.

Darem kon die dokter sy been regkry, maar ek dink nie hy het ooit weer daai trick gedoen nie.

 

Ek het ʼn valse herinnering van my kinderdae. Ek het gedroom dat daar ʼn klomp skape in ons agtererf was. Ek het eendag met my oudste broer daaroor gepraat, en toe sê hy, “Jy weet, dit het regtig gebeur.”

Ek het my pa daaroor gevra (want natuurlik was hy betrokke), oor hoekom daar skape rondgehardloop het in ons erf toe ek ʼn klein dogtertjie was.

Blykbaar het ons buurman op daardie stadium skape in sy agterplaas gehou. Ek wonder nogal hoe ʼn mens ʼn klomp skape op jou erf hou as jy in die dorp bly, maar dit was seker maar ʼn tydelike reëling.

Daardie skape het vinnig die gras daar in die buurman se erf geëet, en blykbaar was ons gras baie lank op daardie stadium. Ek raai maar dat my pa te lui was om die gras te sny, en toe maak hy ʼn plan.

Hy bied toe aan dat die skape in ons erf kan wei. Die skape was so ʼn paar dae in ons erf en het die gras geniet. Hulle was net lank genoeg daar dat dit ʼn vreemde herinnering in my kop gevorm het. Ek dink ook ons arme rifrugbrak het lank gestaan en wonder watter blêrende honde loop in die erf rond.