Al jare lank het my pa se familie die storie van die spookkamer in die ou plaashuis. Die huis het ʼn voorkamer gehad, en dan ʼn groot leefarea, waar die eettafel ook was. Langs die eetkamertafel was die kombuis. Dan het daar ʼn gang uit die leefarea/eetkamer uitgeloop. Die eerste kamer links was die spookkamer.

Ek kan nie veel daarvan onthou nie, behalwe dat dit ʼn bietjie creepy gevoel het. Ek het my pa gevra oor die spookkamer.

My pa het vertel:

 

Ek ken die storie van die spookkamer baie sleg, maar jou broer ken hom baie goed. Daai kamer was oom Herman se kamer. Jy weet mos waar hy was. Dit was as jy by die ou huis ingekom het, die eerste kamer links, aan die peperboom se kant. Ons het altyd gesê dit spook, maar Herman het die spook doodgeslaap daar.

Ek, en ma, en jou broer (dis nou my oudste broer) het daar op die plaas gekuier en toe slaap ons in daardie kamer. Hy was nog baie klein, seker so agt maande. Laat aand dan is ons almal moeg en dan lê jou boetie nog doodgelukkig, maar as ons die lig afsit dan brul daai mannetjie soos ʼn leeu. Ek sê jou hy het bloumoord geskree. Dit was nogal donker gewees. Dit was so donker dat dit voel asof dit jou so druk.

Hy het tussen ons geslaap, want dit was net te donker vir hom. Ek weet nie hoeveel het dit met ʼn spook te make gehad nie. Watse spook sal so ʼn gehuilery wil hoor?

Jou oom Renier het vertel, seker so tien jaar voor sy dood, het daar ʼn ou oom op die plaas gekom. Hy was al in die 90, en het gesê dat hy as jongman op die plaas gebly het in die 1920s. Onthou, oupa het die plaas in 1928 gekoop.

Die man en sy jonger broer het geloop op die plaas met hulle gewere en deur ʼn draad geklim. Met die dat hulle deur die draad klim, het daar per ongeluk ʼn skoot afgegaan. Ek weet nou nie of die outjie wat geskiet is, hy homself geskiet het en of sy broer per ongeluk geskiet het nie. Die spookkamer was daai jong outjie se kamer gewees.

Wat snaaks was, daar agter, na Amsterdam (ʼn ander plaas se naam) se kant toe daar by die rand af, so aan die regterkant, is so vlak en dan sulke blou Jonaklippe.

Toe het oom Renier nog die ou man gevat na daardie klippe toe. Die man het gesê hy en sy broer het lank terug hulle name daar uitgekap. Teen daai tyd was dit al toegespoel maar met ʼn gesukkel en ʼn gegrawe het hulle dit gekry. Hulle het die klip met hulle name en die datum gekry, 1914 of so dink ek. Die ou oom het dit toe vreeslik waardeer.