My pa het die gewoonte om te braai met sy mooiste, ordentlikste klere aan – en my ma verpes dit, want sy weet mos die vet gaan op hom spat en dan moet sy dit was. Deesdae is dit ʼn bietjie beter, want hy trek darem ʼn voorskoot aan. Daar is ʼn paar ander ouens wat ʼn les by hom kan leer.

My pa het vertel:

Oom Renier het my vertel dat hy en Erik by Karel sou gaan jag het, maar Karel moet hom op die plaas kry, jy weet, dat hulle kan saam ry. Toe Karel daar aankom het hy sulke kakie klere aan, ʼn kakie hemp en ʼn kakie broek, maar orals het sy klere sulke gate in. Die klere het ook sulke olie kolle wat jy kan sien gewas is, maar die kol sit nog steeds.

Renier vra toe vir Karel, “Hoekom lyk die klere van jou so?”

Karel vra toe vir hom, “Renier, het jy al van gemsbokpoeding gehoor?”

Toe is dit ʼn lang storie wat Karel vertel.

Daar het in 1974 so ʼn klomp Portugese uit Angola gevlug oor die oorlog. Toe het daar ʼn Milos gesin in Kuruman gevestig. Een aand het Karel by die mense geëet en dit is toe hy gemsbokpoedig leer ken het. ʼn Gemsbok het ʼn lekker groot nek met ʼn dik vel. Hulle slag die kop af en dan word die nekvel so mooi uitgehol. Dan gooi hulle allerhande lekkergoed binne-in soos worsies, bacon, lewer, niertjies, vette, uie, aartappels, die werke. So hulle gooi al die goed in die gemsboknekvel, en dan maak hulle dit bo toe.

Daar word dan lekker vuur gemaak en as die vuur kole is, dan krap hulle die kole weg en grawe ʼn gat onder waar die vuur was. Dan sit hulle die gemsboknekvel daar in die grond en krap hom met so ʼn paar sentimeter grond toe, en dan krap hulle weer die kole bo-op. Dis dan soos ʼn stoompot en dan sit hy so drie of vier ure en daarna is hy lekker gaar.

Maar jy weet, Karel het net gesien hoe dit gedoen is, hy het dit nog nooit self gedoen nie. Maar jong, Karel was ʼn man wat kan organise.

Op ʼn vorige keer was hy by Erik en toe sê hy vir die manne dat hulle gemsbokpoeding moet maak. Hy sê toe vir die ouens dat hulle die bakkie moet vat en hy soek ʼn bakkie vrag hout. Jong, en hulle skiet ʼn gemsbok en Karel beduie hulle hoe om dit uit te sny en hoe om die nekvel te maak. Hy gooi toe daar aartappels, uie en al die ander lekkergoed in. Onthou nou, hy het die ding nog nooit self gedoen nie.

Karel was ook een van daai wat niks self gedoen het nie, hy kon maar net die ander ouens aansê. Daai vuur is toe omtrent tien keer te groot.

In elk geval, toe hy alles in die nekvel het, toe sê hy vir ʼn werker om bloudraad te bring. Hy vat toe daai bloudraad en maak die vel met bloudraad aan die bokant toe. Nou moet hy weet, Karel het toe vir hom ʼn stoompot gemaak. Die Milos het darem ʼn toutjie gebruik waar die stoom kon ontsnap, maar Karel het nie so fyn gekyk nie.

Hulle het toe daai ding gemaak en die gat gegrawe met ʼn helse klomp kole oor. Toe moes hulle vier ure lank staan en drink en wag dat die ding gaar word. So staan hulle so om die vuur, maar dis nie vlamme nie, dis net ʼn helse hoop kole.

Na so ʼn uur of wat staan hulle nog so, toe smaak dit asof iemand ʼn handgranaat in die vuur gooi. Daar is toe ʼn helse skoot wat skiet. Die kole trek die wêreld vol.

Daardie gemsboknekvel het toe so opgeswel, want die lug kon nie ontsnap met die warm word nie. Daar ontplof hy toe. Daar skiet toe vet en alles wat binne die gemsboknekvel was orals om die vuur waar hulle staan en Karel het net aartappels, vet en kole op hom.

Dis toe hoekom Karel so vol kole- en vetkolle was, wat daai ding het ver gespat.

En dit is die storie van die gemsbokpoeding. Dit was maar ʼn gemors, want Karel was mos so ‘slim’ gewees.