My pa hou daarvan om die koerant te lees. Hy sal die koerant enige tyd, enige plek lees. Toe hulle nog die papierweergawe gekoop het (deesdae lees hulle dit op die rekenaar), het hy dit altyd voor die TV gelees. Hy het seker maar die geselskap of die agtergrondklanke gesoek. Hy het gewoonlik nie omgegee as iemand daar by hom gesit en saam TV gekyk nie, jy moes net nie die kanaal verander nie.

My pa kan ook nie net ʼn antwoord op ʼn vraag gee nie, of hy nou koerant lees of nie. Soms as een van ons in die TV kamer inloop en vir hom vra watter program wys, dan kyk hy op na die TV en gebaseer op wat op daardie oomblik op die skerm is, raai hy net. Soos byvoorbeeld, as daar ʼn man op die skerm is wat ʼn geweer ronddra, dan kyk julle kastig James Bond.

Een Sondagaand het ek in die TV kamer ingestap en gesien dat my ouers Thor kyk. Wel, tegnies het my ma Thor gekyk en my pa het koerant gelees. Ek het dit nogal vreemd gevind, want my ma hou nie van super hero flieks nie. Hierdie was die gesprek:

Ek: O, ek sien ma kyk Thor.

Ma: Thor? Ek dog ons kyk Dawid en Goliat.

Sy resensies

Dis nogal lekker om flieks saam met my pa te kyk, jy weet, as hy nie besig is om koerant te lees nie. Een aand het ons Star Wars gekyk, en my pa het baie vrae en kommentaar gehad.

  • Oor die Death Star: Hoekom wil hulle die maan opblaas?
  • Toe hy Chewbacca gesien het: Dis ʼn snaakse beer.
  • Oor die Stormtroopers: Hoekom skiet hulle heeltyd mis?

Hy gee ook interessante resensies oor flieks. Een aand het hy John Wick gekyk en toe ek verbygeloop het, het hy gesê, “Jy moet sien hoe kwaad is die ou oor sy hondjie!”

ʼn Ander keer het hy Godzilla gekyk en toe ek hom vra waaroor die fliek gaan toe sê hy, “Dit gaan oor ʼn likkewaan wat die wêreld wil oorneem”. Ek moet sê, daardie was eintlik ʼn baie akkurate resensie.

Inperkingflieks

Gedurende die inperking het ek nogal baie TV saam met my ouers gekyk. Een aand het ek weer voor die TV gesit saam met my ouers. My pa was besig om deur die kanale te spring en hy het by ʼn fliek gestop.

Pa: Kyk! Daar is ʼn blou apie wat die vliegtuig vlieg!

Ek: Pa, dis ʼn X-men, nie ʼn apie nie (sug).

Pa: ʼn Wat?!

My pa was nie baie beïndruk met die X-men nie.

Op ʼn ander aand, het ons weer dieselfde gedoen en my pa het deur die kanale gespring en by die nuwe Lion King fliek gestop. My pa het gesê dat die fliek onrealisties is om dat leeus nie in daardie tipe klimaat jag nie. Maar tog het hy niks te sê gehad oor die diere wat kan praat en sing nie.

Op ʼn stadium: Wag ʼn bietjie!

Ek: Wat is fout?

Pa: Het ons nie ʼn pak Simba chips hier iewers nie?

Vlermuise lyk nie so nie

Hierdie is my gunsteling oomblik voor die TV saam met my pa. Daar was ʼn tyd toe die hele wêreld behep was met Game of Thrones. Een aand het ek by my ouers gesit toe daar weer ʼn advertensie daarvoor opgekom het. Die gesprek:

My pa: Wat is hierdie Games of Throne (sic) ding? Is dit daai ding met die groot vlermuise met die lang sterte?

Ma: Nee man, dis dinosourusse.

Ek: Wag, wat?