Dit sou seker nie ‘Stories van die Kalahari’ gewees het as daar nie ʼn paar jagstories was nie. My pa se kant van die familie is ʼn klomp vleisliefhebbers, en natuurlik moet die vleis van iewers af kom. So, daar is gereeld gejag.

My pa het vertel:

 

Elke familie het mos hulle eie grappies. Kyk, ons het daai grappie (hy wys so met sy palm op, asof hy vee). Kom ek vertel eers vir jou daai grappie, anders maak die res nie sin nie.

Ons het die storie van ‘jy weet mos hoe lek daai ding’. Daardie storie van die lek begin nou honderd jaar terug met die ou mense. Daardie tyd het die mans nog nie pajamas gehad nie, hulle het nagrokke gedra.

Nou die storie is, daar was ʼn ou wat so sonde gehad het met muishonde wat sy hoenders gevang het. Die een aand laat is daar weer ʼn lawaai by die hoenders en die man gryp sy haelgeweer. Hy en sy seuntjie en hond is daar uit hoenderhok toe. Die ou het besluit vanaand vang ons ʼn muishond. Jong, en ʼn haelgeweer is ʼn gevaarlike ding, en hy versprei mos die patrone so.

Weet jy hoe lyk ʼn hoenderstellasie, ou sus? Die hoender sit so bo-op mekaar, so teen ʼn 45 grade helling. Ek onthou ons het ook so hoenderstellasie gehad op die plaas. Ek weet ons het sulke sparre gehad, dan kon die hoendertjies lekker sit en die mis val deur. En daar was sommer baie mis. Dis hoekom hulle sê ‘hy’s so vol stront soos ʼn hoenderstellasie’.

Maar in elk geval, nou kom hulle by die hoenderhok, en boetie moet lig. Toe boetie so lig toe sien hulle maar hel, die muishond staan eintlik regop soos hy die hoenders wil vang. Daar vat die man toe daai haelgeweer, en hy het moord in gedagte.

Maar onthou, hy het niks onder daardie nagrok aan nie. Net toe hy mik om die muishond te skiet toe waai daai nagrok op en boelie kom lek die man so van agter af.

Toe skrik hy so groot dat hy die sneller trek, maar hy mik toe te hoog. Daar skiet hy al die hoenders dood in plaas van die muishond.

In elk geval, dis nou na aanleiding van daardie lek, dat ek die volgende storie onthou.

Jou oom Renier en oom Herman het gaan jag daar by ʼn ou daar diep in Botswana. Die ou het ʼn boorgat gehad daar op die grond wat hy gehuur het. Dis ʼn waar storie hierdie, hoor.

Sy beeste kon loop so ver as wat hulle kon wei, maar hy het ʼn watergat daar vir die bees gehad.

Toe het hy vreeslik moeilikheid met die wild, want die wild suip al sy water uit en hulle wei op sy plaas. Die bees moes al hoe wyer gaan wei, want die wild vreet al hulle kos hier naby die water op.

Nou ja, jou oom-hulle het daar gestop by die water, want hulle het daar gaan kuier om te jag. Dan staan daar sommer twintig blouwildebeeste daar, en die ou sê hulle moet almal doodskiet. Dan skiet jou ooms almal vinnig dood. Daai ou het skatryk geword van die biltong wat hy gemaak het van al daardie wild. Daar het die ou drade gespan, en dan hang daar duisende stukke biltong. Hy het ook baie honde gehad.

Maar in elk geval, jou ooms vat toe brood en groente en so aan saam sodat hulle nou lekker kan eet in die aand. Jong, en elkeen van daai honde loop met ʼn stuk rugbiltong rond. Hulle is uitgevreet aan die biltong. Hy het vertel, as jy jou rug draai, dan glip daar ʼn hond in die tent in en steel ʼn stuk brood. Dit was so lekker vir hulle.

Hulle was omsingel met wild daar, want die plaas was so 150km van ons grens af, jy weet, van die Molopo rivier af. Dis daar diep in Botswana in.

Soos hulle die aand buite is hoor hulle maar daar brul leeus. Nou nie naby nie, maar ook nie ver nie, so ʼn kilometer ver. As die leeus brul, en ʼn leeu brul lelik, dan klink dit sommer naby.

En o, van al daai brandewyn en vleis wat hulle die aand geëet het, gee jou oom Renier se maag ʼn draai. Hy moet toe so ʼn ent loop en gaan sit vir die besigheid. Hy besluit toe hy gaan sit met sy rug na die vuur toe dat hy kan dophou en ten minste kan sien as ʼn leeu kom.

Hy het net so lekker gesit, toe was hy nog jonk en kon hurk sonder om aan ʼn tak vas te hou.

Toe bekruip een van daai verdomde honde hom en lek hom op die boud. Nou kan jy jou indink hoe het hy geskrik. Blykbaar het hulle die volgende oggend diep spore gesien van hoe hy daar opgespring het.