My pa sê altyd, ‘Brandewyn is ʼn lelike ding’. Dis snaaks want nie een van ons is groot drinkers nie. Ons hoor maar net die stories van ander mense se dronk-manewales.

My pa het vertel:

 

Ek ken die storie sleg, maar ek vertel in elk geval. Dit was nog die tyd van die donkiewaens. Die een boer het op ʼn Vrydag na die dorp toe gekom en goed gekoop. Dan het hy daardie selfde aand gaan kuier en te veel gedrink. Dan lê en slaap hy met daai poepdronk lyf in die donkiewa. Dit was omtrent elke week se storie.

Gewoonlik het hy die donkies net so in die pad gesit en dan loop die donkies verder. Hulle het die pad goed geken. Sê nou maar dis vier ure se ry, so twintig kilometers.

Maar die man was baie bang vir spoke. Op pad na sy plaas was daar ʼn draadhek in die pad. Jy weet daai tipe wat hulle sommer so balke gevat het en draad gespan het. In elk geval, hy moes daardie hek oopgemaak het.

Dan staan en rus die donkies voor die hek totdat die man wakker geword het. Dan het hy die hek oopgemaak en dan eers kon hulle verder loop huis toe.

Toe was daar kwaaddoeners, en hulle sien toe dat die knaap heeltemal te veel gedrink het voordat hy die pad gevat het met sy donkiewa. Die kwaaddoeners volg hom toe, en hy lê en slaap te lekker.

Die donkiewa kom toe by die hek, en die ou lê nog steeds en slaap. Toe besluit die manne om die dronkie skrik te maak. Hulle vat toe die voorste twee donkies en maak hulle los en druk die disselboom deur die hek en hulle span die twee donkies weer in. Nou lyk dit asof die donkies deur die hek geloop het.

Toe daai man daar wakker word en wil oopmaak, toe is die hek tussen die donkies. Hy dog toe dis spoke. Hulle sê dat hy daarna nog gedrink het, maar hy het nie weer in die donker daardie pad gery nie. Hy het altyd gesorg dat hy voor donker die pad gevat het.

 

My oom se storie

Ek dink sommer nou aan ʼn ander storie wat my oom vir my vertel het. Hy self het van ʼn brandewyn en Coke op sy tyd gehou.

Hy het vertel:

 

Jong, sus, jy ken nou nie brandewyn nie, maar dis ʼn snaakse ding. Behalwe dat jy jou swak gedra, maak hy jou dors.

Jou neef was nog ʼn baba en toe het ons gaan kuier met die karavaan. Die Vrystaat het nog daai middag teen die Leeus gespeel. (Hier het my pa onderbreek, ‘Toe verloor hulle 9-11). Daardie Vrydagmiddag het jy petrol ingegooi want oor die naweek is daar nie petrol nie, die petrolstasies is gesluit. So, Vrydagmiddag 5uur is die laaste petrol gegooi en dan kry jy Maandagoggend weer.

Nou moes ons vreeslik stadig ry en ons is twee ouens met karavane wat deurry. Ek moes die oggend eers nog skoolhou en die middag het ons gaan petrol ingooi. Ons het gereken as ons daar kom kan ons petrol uittap en as ons Maandag weer ry, kan ons weer petrol ingooi. Jong, ons het bitter stadig gery, ek praat van 80 kilo’s ʼn uur, dalk nog stadiger.

Toe ons uiteindelik daar uitkom, ai, toe is ons bly om mekaar te sien en ons braai en drink brandewyn. Die baba is moeilik, maar hy’s sy ma se moeilikheid. Ek eet en drink te lekker.

Man, en ons het ʼn simpel karavaan gehad. Ek het ʼn kleintjie gehuur. Nou moet jou tannie Hettie voor slaap dat sy by die kind is en ek moet agter slaap.

Nou slaap ons so, en o, nou word ek met ʼn dors wakker en sy het so ʼn melkbeker vol water langs die bed. Dan vra ek vir haar om die water aan te gee. Ek lê net, dan is ek weer dors.

Maar onthou nou, daai bed is piepklein. Jy kan omtrent net op jou sy lê, hy is so klein. Jong, en so slaap ons in die hartjie van die winter.

Na ek die derde keer vra vir die water, toe kan ek hoor sy is glad nie lekker nie. Toe besluit ek, wag nou help ek myself met die water. Maar ek vat die beker so met die regterhand, en daar tiep hy om op haar. Onthou, dis winter.

Weet jy ou niggie, dit lyk asof sy so uitrys van die woede maar sy sê min. Hel, maar toe is alles nou nat – die bed is nat, sy is nat, die kind is wakker. Ek is nogal droog, snaaks genoeg.

Daar besluit ek, ek sal soveel water as moontlik drink, dit sal nie weer nodig wees om vir die beker te vra nie. Ek het daardie hele beker water alleen uitgedrink. Jou tannie het droë klere aangetrek en ons het die bed ook reggemaak. Sy het my lelik uitgetrap, maar toe gaan slaap ons weer.

Weet jy wat gebeur toe? My blaas.

Dan lê ek agter en knyp vreeslik. Later moet ek oor haar klim, by die kind verby skarrel en buite gaan piepie. Dan klim ek weer terug. Ek lê net lekker en dan moet ek weer gaan.

Sy is nou nog kwaad oor daai storie. Ek dink daai was die laaste keer wat ons in ‘n karavaan geklim het.

 

Ja nee, brandewyn is ʼn lelike ding.