My pa was in die weermag in sy jonger dae. Dis daar waar hy leer rook het. Dis ook waar hy oorskade opgedoen het, want in daardie tyd was oorbeskerming ʼn ‘geldmaakstorie’ en hy was ʼn kanonnier. Hy het my vertel van die interessante karakters wat hy daar ontmoet het, onder andere die ene Pinocchio.

My pa het vertel:

 

In 1979 doen ek ʼn drie maande kamp op die grens op Ondangwa. Hulle het my amper doodgeskiet ʼn week voordat ek teruggekom het. En dit was my eie mense wat my amper doodgeskiet het. Ek het net gesien hoe trek die tracers so oor my.

Maar in elk geval, nou is ons burgermaglede en daar is diensplig troepe. Daar is toe so ʼn sammajoor. Hy was nie oud nie, maar ook nie te jonk nie, seker so veertig of so, van Upington af en hy het lelik moeilikheid gesoek met ons. En hy het planne gehad. Dis hy wat ons wou laat tente skuif het, maar sommer net ʼn halwe meter. Jy weet, sommer sulke simpel goed. Later wou hy dat ons bome plant, maar dan moet jy die gat so groot soos hierdie vertrek grawe. Toe het ek ʼn staking gereël en ek is sommer op orders omdat ons nie die tente wil skuif nie. Maar daai is ʼn langer storie.

In elk geval, ons maak ons toe ongewild. Ons het so eenkant tente gehad in die kamp. Dan kom die sammajoor en hy loop daar buite tussen die tente rond en soek moeilikheid met ons.

In die aand as die son onder is, moet jy in die bunkers gaan sit, dan is dit klaar staan. Jy moet reg wees vir ʼn aanval. Dan kruip die ouens onder hulle beddens weg. Dan kom soek die sammajoor hulle daar uit en hy vloek vreeslik en so. Toe gee ons hom die bynaam van Pinocchio. Ek weet nie hoekom nie. (Ek het gevra, hierdie Pinocchio het nie ʼn lang neus gehad nie.)

Hy weet toe, as iemand hom sien skree hulle, “Pinocchio!” Dan is hy vreeslik kwaad. In elk geval, as hy tussen die tente kom dan span die ouens hulle gewere so: klap-klap. Jy weet nou hy span, dan kan jy skiet. Hy het toe maar minder daar rondgestap in die aande vandat hulle die gewere so begin span het.

Hy loop eendag weer daar en die ouens span gewere. Nou, die een ou het ʼn kettie en ʼn albaster gekry, ek weet nie waar nie. Hy skiet ou Pinocchio tussen die ribbes. Hoor hier, toe daai skoot klap, dog hy hulle het hom doodgeskiet. Toe hy sien hy val nie, het hy seker vermoed dis ʼn kettie. Toe is hy daar uit.

Pinocchio het die laaste drie weke nie met ons moeilikheid gesoek nie. Die dag toe ons ry, toe staan die trokke so in ʼn ry en ons klim op met al ons goed. Ons gaan huis toe.

Die nuwe troepe was daar en ou Pinocchio stap daar rond en swaai sy arms vir die nuwe troepe. Nou begin ons: “Pinocchio!” Toe is hy kwaad. Toe sing ons almal, seker 90 ouens, drie trokke vol: “Pinocchio! Jou ma se mo…” (Wel, hier het hulle vir Pinocchio iets van sy ma toegevoeg.)

Hoor hierso, maar ek se vir jou, toe hy hoor daai voertuie start en ry daar uit, dink ek hy was bitterlik dankbaar.