My pa het baie jagstories, maar hierdie storie oor oom Harry is beslis die beste een.

My pa het vertel:

 

My pa was bevriend met ʼn oom, oom Harry, maar hy is oorlede toe ek ʼn kind was. Hier in die vroeë sestigs was hy al ʼn ou man van in die tagtig, so nou kan jy dink.

Jong, hy het baie wild gesteel in Botswana in sy jonger dae. Nou dit was seker hier in die 1920’s toe die storie plaasgevind het.

Hulle het met daai simpel karre in Botswana ingery. Hulle het eintlik hulle lewens gewaag. Maar in elk geval, oom Harry het ʼn jag aan en hulle is ʼn paar ouens. Onder andere was daar ʼn dopper predikant en van Harry se rowwe pelle. Oom Harry het vir die predikant gesê om vier bottels brandewyn saam te vat. Toe hy vra hoekom, toe sê Oom Harry dis net vir as ʼn slang hulle pik. (Hy het seker nie die ander rowwe pelle vertrou om die brannas te vat nie. Ek weet ook nie hoe help brandewyn vir ʼn slangbyt nie, maar nou ja.) So het die klomp toe gaan jag in Botswana. Met die jagtog was daar twee boesmans saam om te help om die bokke af te slag en so aan.

Nou moet jy verstaan, daai tyd het die polisie nog met kamele gery. Hulle het nie Land Cruisers gehad nie, die kamele was hulle Land Cruisers. Dis hoe hulle die plek gepatrolleer het vir wild diewe.

Met die jagtog het hulle ʼn klomp gemsbokke geskiet. Weet jy, baie keer het die ouens sommer lelik gemors met die vleis. Dan het hulle net die boude en die rug biltonge gevat en die res gelos vir al die leeus en die aasdiere. Maar in elk geval, oom Harry het nie gemors nie, hulle moet die gemsbokke oplaai.

Hulle was nog besig om die gemsbokke op te laai en toe kom daar twee polisiemanne oor die duin met hulle kamele gery. Hulle word toe lekker gevang. Onthou, dan word jy in Botswana toegesluit.

Oom Harry het eers nie twee en twee bymekaar gesit nie en met sy fyn stemmetjie gesê: “Ag kyk hoe goed is die Liewe Vader vir ons. Hier’s mense om te help oplaai.”

Ja wel, toe is hulle nie daar om te help oplaai nie.

Oom Harry sê toe vir die polisiemanne, “Kyk, dis nou laatmiddag. Julle het ons nou gevang, ons kan dit nie ontken nie. Laat ons nou maar vanaand lekker vleis braai en ʼn dop drink. Môre ry ons Tshabong toe (ʼn dorp in Botswana) en dan kan julle ons toesluit.” Die polisiemanne het ingestem, want hulle wou ook nie in die donker ry nie.

Jong, hierdie is ʼn waar storie, hoor.

Onthou, hulle het ʼn paar bottels brandewyn gehad – genoeg om getrek te raak. Nou ja, toe braai hulle lekker vleis en seker lewertjies ook.

Oom Harry skink vir die polisiemanne stewige doppe en almal kuier lekker saam. Maar hy gooi net groot doppe vir die polisiemanne. Sy eie dop het hy agter hom uitgegooi sodat hy kan nugter bly.

Toe hy die derde dop gooi, toe sê die een polisieman. “Ek hou van jou, ek wil jou nie toesluit nie. Dalk daai predikant, maar nie vir jou nie.” Oom Harry sê, “Nee, jy het ons mos nou.”

ʼn Paar doppe verder toe verduidelik oom Harry vir die polisiemanne dat hy die boesmans bekeer het. Hy moet vir hulle bid voordat hulle verder kuier en gaan slaap.

Oom Harry kon die boesmans se taal gepraat het, en terwyl hulle kamma gebid het, vertel hy vir hulle dat die polisiemanne baie brandewyn in het. As hulle sien dat die polisiemanne uitpaas om te slaap, dan moet hulle die kamele gaan losmaak sodat hulle kan wegloop. Hy sê, daai tyd moet hulle almal vlug.

Jong, en nadat hulle ‘gebid’ het, toe gee oom Harry vir die polisiemanne nog brandewyn. Dit was nie meer lank nie, toe is die twee aan die slaap.

En, jy weet, as jy gedrink het, dan wanneer jy daar wakker word, is jy dors. Daar is hulle toe in die wildernis, omtrent ʼn honderd myl van water af.

In elk geval, toe die twee omdop toe sê oom Harry dat hulle moet jaag. Hulle het baie vinnig gepak. Die polisie het sulke boekies gehad waarin hulle die oortredings neergeskryf het. Toe skeur Harry die twee blaaie van hulle uit.

“En die twee manne?” het die predikant gevra.

“Hulle het mos voete gekry,” sê oom Harry.

Hy maak toe darem die leë bottels brandewyn vol water en los dit vir die polisiemanne.

Daar jaag die klomp Kuruman toe terwyl die twee dronklywe lê en slaap.

Dit was seker ook maar slim dat hulle die kamele losgemaak het, want daai lorrie sit toe soveel keer vas dat die polisie hulle met die kamele nog kon injaag.

Nou, dis hier waar die storie interessant raak.

So ʼn paar maande later kry oom Harry ʼn boodskap. Daar is ʼn man in die hospitaal wat hom ken. Daai tyd was Kuruman die enigste groot dorp naby Botswana met ʼn hospitaal, en toe was die hospitale nog reg.

Hy gaan toe hospitaal toe en toe hy by die kamer instap, raai wie lê in die bed? Dis toe een van die polisiemanne. Sy blindederm het gebars.

Nou kan jy dink wat het daai polisieman te sê gehad vir oom Harry en sy skelmstreke.

Maar daar vind oom Harry toe uit wat het gebeur toe hulle die pad gevat het. Toe daai polisiemanne die volgende môre wakker word, toe is Harry-hulle almal weg. Hulle het darem elkeen ʼn bottel brandewyn met water in, maar tot hulle verbasing is die kamele ook weg. Maar daai twee was goed, want hulle het die kamele se spoor gevat en hulle wragtig gekry. Hulle kon toe opklim en ry, al was dit met ʼn groot hoofpyn.

Die polisieman was seker nou nie te kwaad nie, want op die ou ent het hulle twee groot vriende geraak.