My ouers het albei by die Universiteit van die Vrystaat studeer, en ek het ook baie jare later daar studeer. Snaaks genoeg, dit was by die universiteit waar my ouers ontmoet het. Maar voordat my ouers ontmoet het, was my pa ʼn koshuisman wat kattekwaad aangevang het. Onder andere het hy gehelp om die eerstejaars voor te stel aan die leeu van die Wes-Transvaal.

My pa het vertel:

 

Ou sus, het ek jou vertel van die leeu van die Wes-Transvaal? Man, toe ons in die koshuis was, het ons die eerstejaars gehad. Toe een aand, soos baie aande wat ons niks te doen gehad het nie, of baie te doen gehad maar lus was vir kattekwaad, het ons die eerstejaars laat roep.

Dit was seker so 10uur in die aand en ons het al die eerstejaars in die gazellie gehad. Die een ou het gesê die klomp moet die leeu van die Wes-Transvaal leer ken. Die gordyne van die gazellie is toe mooi toegemaak, dat niemand kon in sien nie, en al die eerstejaars is uitgejaag.

Stefan was so ou vette, maar ek praat van vet. En ou Fred was ook ʼn vette. Dan kom die eerstejaar alleen in en hy weet nie wat gaan aan nie. Nou, vir die eerste een is dit ʼn groot verrassing.

As die eerstejaar daar inkom dan staan Fred daar met sy broek afgetrek en hy buk. Nou moet jy weet hoe lyk dit. Stefan, met sy dik pens, staan ook daar rond.

Dan word die eerstejaar geblinddoek en op sy knieë gesit met sy neus net ʼn paar sentimeter van Fred se agterent af. As ons die outjie klaar geblinddoek het, dan staan Fred weg, en dan kom Stefan en druk sy pens so op ʼn gleufie.

Ek het die outjie aan die agterkop en kakebeen beet en druk sy neus hier in die gleufie in. Maar onthou watter gleufie hy dink is dit. As sy neus in die gleufie is, dan sê ons ‘Lek!’ As ʼn honderd ouens op jou skree, dan lek jy maar.

Dan lek hy, en as hy klaar gelek het, dan staan Stefan op en Fred kom buk weer. Daarna maak jy die blinddoek los en sy gesig is dan weer net ʼn paar sentimeter van Fred se agterkant af. Dan kyk hy nou waar hy kastig gelek het.

Ons sê dan, ‘Gaan sit daar’. Dan vat hy sy sakdoek en vee sy tong af. Jy kan dan jy sien hy is so naar hy kan vrek daarvan.

Dan kom die volgende eerstejaar in. As daai eerstejaar sien wat eintlik gebeur, dan brul hy soos hy lag. Later het die eerstejaars die hardste van almal gelag. Dit was groot pret.

Ek wonder of hulle aangehou het daarmee. Anders as dit het ons niks snaaks met insoutings gedoen nie. Ek het mos vir nege maande agteruit geloop in die koshuis. Kan jy dit glo?

 

Darem het hy niemand se ‘agterent’ gelek nie.