Ek het nooit my oupa aan my pa se kant geken nie. Om dinge in perspektief te sit, hy was 54 toe my pa gebore is, so hy is oorlede lank voordat ek eers ʼn gedagte was. Dis nogal sleg, want ek is seker ek sou sy stories baie geniet het. My pa ken darem ʼn paar van my oupa se stories. Lyk my hy het veral sonde gehad met karre.

My pa het vertel:

 

Jou oupa het ʼn ou Ford gehad. Op ʼn stadium het hy vir ʼn heupoperasie gegaan in Johannesburg. Daar was hy, sê nou maar, ʼn maand lank in die hospitaal. Ai, en daai heup was vreeslik seer. Na die maand, toe is dit tyd om huis toe te gaan. Toe ry hy met daai ou Ford kar. Nou, Krugersdorp is so 30, miskien 50km van Johannesburg af. Maar onthou, daai tyd was die paaie doodstil.

Toe kry hulle ʼn pap wiel en dit moet omgeruil word, maar ouma weet nie hoe nie. Dit was nog net hulle twee gewees. Jou oupa kan niks doen nie, want hy kan nie staan op die been nie.

Toe moet hy vir jou ouma sê hoe om ʼn domkrag op te sit. Al wat hy kan doen, is om so te lê oor die enjinkap van die kar met sy kop hier by die wiel. So sê hy vir haar wat om te doen. Nou kan jy dink watter harde woorde het daar geval, want ouma is onhandig en oupa se heup wil ontplof van die pyn, en die verdomde wiel is pap. Tog kry hulle dit reg en hulle ry daar in Krugersdorp in.

Daar by die eerste garage waar hulle karre verkoop ry hy in. Daar staan toe ʼn geel Chev Bel Air en oupa vra vir die verkoopsman daar, ‘Wat gee jy my vir die kar?’ (Dis nou sy ou Ford.) Sê nou maar die ou sê R400. Oupa vra toe, “Wat kos daai Chev?” Sê nou maar R2000. Hy sê dis reg so, maak hom vol petrol, hy gaan hom vat.

Toe verkoop hy sy kar net daar, en ry weg met die Chev. Daai Chev was outomaties, wat nou vir hom wat nie sy bene kon gebruik nie ʼn groot voordeel was.

Daai Chev het baie goed gedoen totdat ouma ons eendag atletiek toe moes vat. Die plaaswerkers het ʼn kruiwa reg voor die Chev gesit. Ons almal het ingeklim en nie een van ons het die ding gesien nie, my pa ook nie. Toe my ma die ding in rat sit en wegtrek – woerts, hier is ons in die lug.

Daar skree my pa blou moord en sy sit die kar in trurat. Woerts, af is ons weer.

(Dit was nou hier, waar ek vrae gehad het oor die kruiwa storie. Ek vra my pa toe, ‘Was die kruiwa onderstebo gesit?)

Nee, die kruiwa was so regop, maar toe stamp ouma hom dat hy omdop. Dit was nogal ʼn sterk ding. Toe sy petrol gee, toe ry die kar op die kruiwa so op in die lug in. Die voorwiele is ver van die grond af. Toe ons weer op die grond is, het daai kruiwa ʼn paar lelike duike in gehad.

Daar kry my pa en ma stry oor die kar en kruiwa. Toe gaan oefen ons nie daardie middag nie. Weet jy, ek dink nie daai kar het enigiets oorgekom nie.