My ouers het albei jare terug by die Universiteit van die Vrystaat studeer. Voordat hulle ontmoet het, het my pa sy koshuislewe geniet.
My pa het vertel:
My ou kamermaat op universiteit, Erik, het van Karasburg afgekom. Hulle het nie baie geld gehad nie en hy het met ʼn beurs geleer.
Hier in sy derdejaar kom hy by die huis. Daar is toe ʼn ou met so rooi 1964 Alfa wat hom vir R300 aan Erik verkoop. Dis ʼn ou kar, maar hy kon nog ry. Die stuurwiel se omhulsel was af. Dis die rou stuurwiel, net yster, wat daar sit. Toe kom hy met daai Alfa koshuis toe. Hy het lekker van Karasburg af gery.
Daar was ʼn Roos meisie, ons het sommer van Rosie gepraat, waarop Erik tog so verlief was. Toe Rosie saam met hom in daardie kar ry, toe sien sy hierdie is ʼn arm student. Jy moet weet, Rosie het uit ʼn ryk familie gekom en toe besluit sy, sy sien nie kans vir so ʼn arm man nie, en sy los vir Erik.
Jong, en hy kom een aand daar aan, nadat sy hom gelos het, en hel maar hy is vreeslik hartseer oor die meisie. Daar is toe net een raad en daar word gedrink om hom te troos. Ons kon geskors gewees het, maar ons het altyd drank in die koshuis gehad – sommer baie drank. Jou pa was nie altyd so ʼn engeltjie soos nou nie.
Ek het sommer ʼn gelling soetwyn gekoop, so in ʼn varkie. (Dis toe hier wat ek vra hoeveel is ʼn gelling.) Dis was so 4.5 liter. Man, jy kon die hele naweek daaraan gedrink het. Dit was iets soos R2 vir die bottel. Ek dink daardie bottel is al R200 werd.
Maar in elk geval, toe drink ons om Erik te troos. En ons almal vloek die meisie. Ja nee, ‘wie dink sy is sy’ en al daai dinge. Jong, en toe Erik dik gedrink is toe sê hy, maar de hel met haar, nou gaan ry ons. Hy sê ons gaan nou met daai karretjie bietjie op kampus ry.
Rosie was in Wag-ʼn-Bietjie koshuis, daar by die hoofingang. Ons gaan daar na haar koshuis en jaag daar verby dat sy kan sien hoe kan ons jaag met daai kar. Ek sit regs agter, Erdman sit voor, en Louw sit links agter en ons ry. Ons gaan gooi daar ʼn S en Erik besluit dis ʼn bietjie stadig – hy kan hom vinniger vat. Die bande skree en ons lag.
Daar was ʼn spietkop op kampus, Prof Parker, en hy het ʼn Volkswagen gehad. Daar was ook ʼn ander meisie in Wag-ʼn-Bietjie was ons geken het. Sy het die kabaal gehoor en by die venster uitgekyk. Ons weet dit toe nie, maar Prof Parker het ons gejaag. Sy het vertel, dan kom ons met ʼn stinkspoed daar om gejaag en na ʼn ruk kom Prof Parker met sy Volkswagen met sy bloulig aan. Maar ons ry hom maklik weg.
Jong, maar toe is klaar is by die koshuis toe vat ons daai pad na die uitgang daar onder by Universitas. Hy het ʼn stop gehad. Toe Erik daar by die pad afry, toe raas sy ratkas, en ek kon hoor daai kar is nie meer lekker nie. Hy’s nou omtrent klaar gejaag. Toe hy naby daai stop kom, sê ek daar is ʼn stop voor. Hy gear hom terug maar toe hy dit doen, toe smaak dit hy vang nou eers spoed.
Daar voor het ʼn ou ʼn beton muur gehad, wat iemand natuurlik in sy kanon in gery het met sulke pale wat daar geplant is. Erik weet toe darem van die pale. Maar net so links was daar gelukkig nog ʼn inrit. Toe hy daai draai vat, toe vat hy hom links. Ons is oor die ou se inrit, tot op sy grasperk. Man, ons ry seker 30 treë in daai grasperk in. Ons is baie gelukkig die kar het nie gerol nie.
Maar met die wat hy die draai gevat het, het sy twee regter bande van die rims afgespring. Dit was in die winter, die gras was dood. Met die bande wat van die rims afgespring het met die draai wat hy gevat het, toe maak hy ʼn boog op daardie grasperk. Toe sny dit die gras en dit word die wêreld vol gestrooi. Dit lyk soos die mooiste rand vir ʼn grasperk wat jy kan sny, maar nou net op die verkeerde plek.
Toe ons tot stilstand kom, toe sê Erik, “Roomsie, nou is my kar darem lelik in sy kanon in.” (Hy het eintlik sterker taal gebruik.) Ek kruip soos ek lag. Regtig, ek het op die gras gekruip soos ek lag.
Gelukkig het niemand regtig seergekry nie, maar die kar is net heeltemal klaar. Louw het sy kar gaan haal en ons sleep toe Erik se kar. Eers stoot ons die Alfa van die grasperk af tot in die straat, maar daar gaan nie eers ʼn lig aan in die huis nie. Met ʼn groot gesukkel het ons die kar weer by die koshuis gekry.
Die volgende dag sê ek vir Louw dat ons moet gaan kyk hoe lyk daardie grasperk. Ons ry toe daarheen. Ons sien toe hoe het die rims die gras gesny en hoe lê die gras versprei en so aan. Terwyl ons die storie so kyk, toe kom daar een van ons vriende uit ʼn ander koshuis daar aan, Harry. Hy kom by die huis uitgestap. Ons het toe maar in die kar geklim en terug gegaan koshuis toe.
Eers die Maandag toe kry ons Harry op kampus, en intussen het hy twee en twee bymekaar gesit. Hy vra toe, “Het julle daai ongeluk gemaak Vrydagaand?” Ons erken dit toe. Ons vra hom toe hoe ken hy die mense en hoekom het daar nie ʼn lig aangegaan nie.
Harry se tannie het in daardie huis gebly en in die middel van die aand het sy die kabaal gehoor. Sy loer toe deur die venster. Sy het later vir Harry gesê, “Weet jy, een van daardie studente het so seer gekry dat hy op die gras rondgekruip het.”
Dis toe ek wat so rondgekruip het soos ek gelag het.