Daar was vreemde tradisies by die universiteit toe my ouers lank terug daar studeer het. Die Novembereksamen-natgooiery was maar net een van vele.

My pa het vertel:

 

Jy weet mos die universiteit het hier aan die einde van die jaar, so November, hulle eksamens. Toe ons daar was, dan in die aande na ete het die mense met emmers vol water rondgeloop. Hoekom dit so was, weet ek nie. Almal het met emmers water rondgehardloop. Die natgooiery was tradisie.

Die meisies was katvoet, want as hulle by die klas of koshuis uitkom, word hulle natgegooi. So later was dit vreeslik moeite, want jy kry niemand om nat te gooi nie. Jy moet met ʼn emmer loop en dan hardloop al wat ʼn meisie is weg.

My een koshuisvriend, Louw, het ʼn Cortina-bakkie gehad. Ons het ʼn seil in die hande gekry en so agterop die bakkie gesit. Toe maak ons hom lekker vol water. Dit was seker ʼn voet vol water, sommer baie water.

Nou ry ons met die bakkie, en ons sit agterop. Ons ry baie stadig. Ek weet dit was so naby Huis Van der Merwe, so van die Landboufakulteit se kant af. Daar loop drie meisietjies houtgerus en hulle sien nie ʼn natgooiery in sig nie. Ons kom saggies van agteraf, elkeen met ʼn emmer water. Maar ek sê vir jou, toe het daai drie omtrent ʼn honderd liter water op hulle. Hulle het geskree van die skrik.

Dit was so groot sukses dat almal ons gena-aap het. Maar ek sê vir jou, ons het daai bakkie trick uitgedink. Later was al wat ʼn meisie bang vir bakkies ook.

 

My ma was ook niksvermoedend vanaf ʼn bakkie natgegooi, maar ons weet nie of my pa betrokke was nie.