Ek is nie mal oor ʼn tandarts nie, maar soos ek die stories hoor, klink dit asof my pa se familie glad nie van hulle hou nie.

My pa het vertel:

 

Ou sus, op Kuruman, het ons ʼn tandarts gehad, dokter Burger. Hy het net geweet van tande trek. O, hy het die mense vreeslik verniel. Daai wêreld se water was baie swak, so die mense se tande was vrot. Ons klomp kinders op die plaas se tande was ook vrot. Jou tannie Elna het later valstande gekry.

Daar was drie deure in die tandarts se spreekkamer. Daar was die deur van die gang waar jy inkom, en ʼn deur na die ander pasiënt toe as hy jou nou doodgespuit het, en agter was nog ʼn deur wat lei na ʼn binnehof buite toe.

Jong, en jou oom Ben was bang vir ʼn tandarts. Die eendag moet hy tandarts toe, maar hy moet alleen gaan. Hy was nog in die laerskool. Ben sit daar in die verdrukking en daai dokter Burger kom met wat lyk soos ʼn beesspuit om sy mond te spuit. Hy het in sy lewe nog nooit so groot naald gesien nie. Toe sien Ben nie meer kans vir die storie nie. Daar spring hy op.

Met die wat hy opspring, druk die dokter die deur toe van die gang, maar Ben is soos die blits deur die deur agter na die binnehof, en toe vat hy die pad.

(Ek vra: “Het hy plaas toe geloop?”)

Hy het gehardloop! Ja nee, ek dink dit was die laaste wat hy by ʼn tandarts was. En weet jy, hy het die beste tande van ons almal gehad.

(Ek vra, “En wat het oupa daarvan gesê?”)

Nee wat, hy het niks gesê nie. Ben het hom mos geld gespaar.

Soos ek gesê het, hy was nooit weer by ʼn tandarts nie. Hy het gesê hulle krap net met daai ystertjie dat hulle nog ʼn vulsel oor ses maande moet maak. Dis dieselfde storie as hulle boor. Hulle boor mis en dan is daar nog ʼn gaatjie langsaan.