Elke nou en dan vra my pa vir my ʼn vraag wat ek nog nooit gevra is nie. Soos die dag toe hy vir my vra, “Het ek jou vertel van die bees wat ons gestamp het?”

En soos gewoonlik begin my antwoord met die woorde: “Wag, wat?!”

My pa het vertel:

 

Ek was nog ʼn baba en het gelê op my ma se skoot in die kar. Ons het van Niekerkshoop afgekom en Kuruman toe gery. Dit was maar grondpad, jong. My pa het ʼn bietjie te vinnig gery deur ʼn duik. Daar het ʼn klomp beeste gelê en slaap. Toe my pa briek en toeter blaas, toe spring hulle op en hardloop so weg. Ongelukkig was ons te vinnig, en ons het ʼn koei so op haar agterent gestamp.

Toe ons daai koei stamp, toe is die druk in die pens te veel, en daar spuit die mis toe uit. Die mis het deur die linkervoor venster getrek en onthou, ek en my ma het links agter gesit. Ek het seker gelê en bottie suig. Toe is ek en my ma van die beesmis dat sy die bottel se melk gevat het om my gesig mee te was.

In elk geval, my ma het ook twee keer uit daai kar geval. (Hier het ek weer gevra, “Wag, wat?!)

Die ou karre se deurslotte was swak. As jy om ʼn draai gaan, dan glip die deur sommer oop. Daai tyd was daar ook nie veiligheidsgordels nie.

Ek weet die een keer het sy nog jou oupa se bril skoongemaak in die kar, en daar was ʼn klomp klippe langs die pad, maar sy het daar in ʼn sandkolletjie geval. My pa het net die bril so gevat, en die het gelukkig niks oorgekom nie, en vir ouma gesê: “Kom klim, laat ons ry.”

Jy sien, in daai tyd het die karre nie verwarmers gehad nie. Haar bene was toe met komberse, so sy het nie veel oorgekom nie.

Dit was ʼn gevaarlike storie. Die kar kon oor jou gery het.

 

En toe kom daar nog ʼn karstorie uit. My pa het vertel:

 

Onthou nou, jou oupa is in 1901 gebore gedurende die Boereoorlog. Dit was daar in Kenhardt, Kakamas, daai wêreld. Toe het die boere met ossewaens of perdekarre gery, en in 1901 was hier seker vier karre in die land, as dit soveel was. Ek dink Paul Kruger het darem ook in ʼn kar gery.

Hulle het met ʼn wa en donkies in die veld gaan hout maak, toe kom een of ander ryk familielid kuier met ʼn kar. Ek is nie presies seker wie se kar dit was nie, maar hy kom na my pa se pa-hulle toe op die plaas.

Nou kap hulle hout, en hier hoor hulle por-por-por. Dis so goed ons sien ʼn ruimtetuig. Onthou, hulle het nie eers geweet van ʼn kar nie, wat nog van een sien.

Hulle hoor die por-por-por, ʼn aardige geluid, en hulle sien die ding hier verbygaan sonder perde voor. Toe los hulle die houtkappery net daar en hulle gaan jaag die ding, want hulle wil hom vang en kyk wat dit is. Jong, maar die kar ry vir hulle weg.

Nou, ek was nooit daar nie, maar blykbaar was daar so droeë lopie gewees waar die sand dik was en daar was ʼn ander pad. Die ou het eers die verkeerde pad gevat, en toe hy sien daai sand is te dik. Toe sit hy die kar in trurat en ry op sy spore ʼn ver ent terug en hy vat ʼn ander paadjie.

Maar met die wat die kinders die kar so jaag, mis hulle daai ander uitdraai spore. Nou kom hulle hier waar die spore ophou en hulle sien die kar staan daar 100 tree verder onder die boom.

Die kinders kyk die saak so en een sê toe, “Kyk, daai ding het gespring van hier af!” Hulle het hom geglo. Hulle kom toe nader aan die kar en bekyk die ding. Hulle kyk die bande en die raamwerk en so. Dit was vir hulle soos ʼn ruimtetuig.

Die kar het so ʼn bietjie water gelek, toe sê een die ander kinder moet kom kyk: die ding piepie nog ook.