Ek het nooit my oupa geken nie, ek het maar net die stories gehoor. Hy was ʼn boer en het nie nonsens gevat nie.

My pa het vertel:

Ons het ʼn kanon op die plaas gehad. Dit het met karbiedgas gewerk. Dit was eintlik vir die voëltjies op die lande waarvoor my pa die ding gekry het, maar dit het vir verlore skaap ook gehelp.

Jy gooi sulke karbiedkole in die kanon en daar drup so watertjie en dan maak hy gas: karbiedgas. Elke halfuur of so, dan skiet hy ʼn vreeslike skoot – KWA! Sommer ʼn groot skoot. Hy het ʼn groot uitlaat gehad, maar dit was net die gas wat ontplof het.

Jong, en my pa het nie met geld gemors nie. Toe hy die ding toets, toe is almal vreeslik opgewonde. Daar voor die huis word die ding getoets en hy skiet ʼn paar skote. Hy het ʼn uitlaatpyp en jou oom Renier oorreed my pa om sy hoed te gee. Toe vat hy die hoed en gaan sit hom daar op die uitlaatpyp waar hy skiet.

KWA!

Daar skiet die ding en die hoed trek. Almal lag toe al te lekker. Toe hulle daardie hoed optel, toe is sy bokant by die kop heeltemal afgeskiet. My pa was darem naar vir hulle.

Ai, jou oupa was moeilik en suinig. As daar skaap getel word en daar is ʼn skaap weg, dan word alles gelos en die skaap word gesoek.

Maar onthou, dit was altyd hier laat middag wat die skaap getel word. Dan moet ek en al die werkers veld toe en skaap soek, want as hy in die veld slaap dan vang die jakkalse hom. Toe ons die kanon gekry het, dan het ons dit altyd gevat en in die veld gaan sit en dan skiet hy ʼn skoot nou en dan. Dit het nogal gehelp so paar keer, want dan skrik die jakkalse en hulle loop nie in daardie kamp rond nie want hulle hoor daar word geskiet. Hulle het dit later maar ook maar gewoond geraak.

Ons het ook bokke gehad. Eendag is daar ʼn bok weg. Jong, ʼn bok is ʼn vreeslike ding. Hy staan so regop teen die bosse en eet. Ons tel weer, en ja, daar kort ʼn bok. Ons gaan soek hom en toe ons hom kry toe staan hy so reguit in die boom. Toe is daar so ʼn mik van die takke, en sy voet het gehak in die mik. Gelukkig kry ons hom.

Hier staan die bok op sy agterpote, maar toe is hy al moeg gestaan hoor. Hy hang so aan die een poot daar tussen die takke. Toe is hy gered.

Ons het ook baie slagysters vir die jakkalse gestel. Eendag vang ons toe ʼn jakkals. Dit was ʼn groot prestasie. Hy word geslag en die vel word verkoop, of ʼn karos word gemaak, maar ons het die velle verkoop. Ek dink ons het seker R5 vir ʼn vel gekry.

Maar in elk geval, ons kry die dooie jakkals en gaan gooi hom voor my pa neer. Jong, ʼn jakkals en Vicky (ons skaaphond) lyk baie na mekaar. Daar slaan hy met sy kierie op die kop van die dooie jakkals. Hy sê, “Jy het lekker gevreet aan my skaap”.

In elk geval, so tel ek eendag skaap, maar ek is nog in die skool. Daai dag kort daar ʼn skaap. Jong, en dis ʼn groot werk om skaap te tel, jy moet fyn wees en nie ʼn fout maak nie, want as jy ʼn skaap kort dan moet hulle weer getel word. As jy nie seker is nie, dan jaag jy hulle in die kraal en jy tel hulle weer. Ek tel die skape drie kere, maar daar kort nog steeds ʼn skaap. Ek sê toe vir my pa daar kort ʼn skaap. Hy sê, “Ja, dis oukei.”

Toe weet ek iets is nie reg nie, want ek ken nie my pa so nie. Toe vertel die werkers vir my dat jou oupa ʼn skaap doodgery het. Ek kom by my pa en ek vra hom die storie.

Hy het gery met so ʼn ou blou Dodge bakkie daar langs die land waar die huis is; daar gaan so ʼn paadjie op. Ons het baie daar na die gemsbokke toe gery en daar was so ʼn krip. Daar ry my pa, natuurlik ʼn bietjie te vinnig, en daar is skape. Toe hardloop daar ʼn skaap van die dwarste, reg voor die bakkie in. Kwa! Ry hy hom dood.

Hy het net gesê, “Ja jong, ʼn skaap is ʼn onnosel ding”. Toe het ons die skaap maar laat slag.