Eendag praat ek en my pa van muishonde. Ek het nog nooit ʼn muishond in lewende lywe gesien nie, net ʼn paar in die tekenprentjies wat ek Saterdagoggende op die televisie gekyk het.
Ek vra toe, “Het Pappa-hulle nie muishonde op die plaas gehad nie?”
Hy antwoord, “Ek kan jou sommer oor die algemeen vertel oor ʼn vervlakste muishond!”
My pa vertel:
Dit was so warm op die plaas gewees. Die huis se deure het oopgestaan in die nag dat wind tog net ʼn bietjie kan inkom. Ons grootste probleem toe was nie diewe nie, dit was wilde diere. Die grootste vrees was vir ʼn slang wat in seil, of ʼn ystervark wat in die spens kom ruik wat aangaan, maar die een aand toe kom daar ʼn muishond in.
Ek weet nie watter hond loop hy daar in die huis raak nie, maar die twee begin baklei. Onthou, ʼn muishond byt nie; hy spuit met sy agterent. Dis ʼn vreeslike stink! Hoor hier, maar daai huis het gestink na muishond. My ma het alles met vanielje uitgewas, maar vir die hond was daar nie hoop nie. Daai hond moes vir drie weke buitekant geslaap het. Daardie stink kan jy nie beskryf nie.
Maar kyk, dis soos ʼn oogpister. Ek weet ons het so ʼn swart hondjie gehad en eendag sit ons daar buite. Die hond is ook by, en daar kom ʼn oogpister aan. Nou, daai hondjie het nog nie ʼn oogpister geken nie. Daai oogpister was groot, jong, amper soos ʼn muis.
Nou hardloop die swart gogga en sy naam is nie verniet oogpister nie, want as ʼn ding hom pla dan piepie hy in die ding se oog. Dan brand dit soos die hel. En die hondjie gaan en ruik hom so. Die oogpister het hom nogal nie dadelik gespuit nie, maar toe hy sien hierdie hond is ernstig, toe spuit hy hom.
Met ʼn hond hoef hy hom net een keer te spuit en daarna as hy so gogga sien dan kyk hy hom net so en los hom. Weet jy, hy spuit daai swart hond en toe druk daai hond sy kop so in die rooi grond, dan loop hy so vir daai brand. As hy opkyk dan sien jy net hierdie rooi sand met die swart ogie wat hier in die binnekant sit. Ons het met ʼn gesukkel sy oë uitgewas.