My pa het al baie gesê, “My kind, van lui wees maak jy net vir jouself werk.” Hy het darem ook ʼn paar stories om dit te illustreer.

My pa het vertel:

 

Een keer was tannie Hettie in die hospitaal en oom Renier was iets soos drie weke of ʼn maand lank alleen by die huis. Toe het hy ook maar nie skoongemaak nie.

Net voordat sy teruggekom het, het hy besluit om die stofsuier te vat en die huis ʼn bietjie skoon te maak. Terwyl hy in die slaapkamer stofsuig, toe onthou hy dat daar buitekant die venster bye sit. Dit was sulke witgat bytjies wat vreeslik seer steek. Hulle sit daar in ʼn nes en hy dink toe dat terwyl hy nou besig is, moet hy hulle sommer ook vang. Hy steek toe die stofsuier deur die venster en foeps, daar suig die ding hulle in.

So stofsuig hy die hele huis en hy vergeet heeltemal van die bye. Toe hy klaar is, toe gaan gooi hy die stofsuier uit. Maar hy sien die stof bewe so en daar kruip sulke stof bytjies uit. Al wat geblink het, was hulle ogies.

Hy kan bly wees hulle het hom nie gesteek nie. Hulle was seker te kwaad en deurmekaar van die stof om iets te doen. Dit was maar goed so, hulle sou hom lelik gesteek het.

Ek onthou nou ook, jou oom Renier het mos as hy vleis bewerk het, sy hande so onder sy arms skoongevee. Hy wou nie sy hande was as hy sê nou maar net vinnig ʼn sigarette wou rook nie. Dan kom druk Jassie (sy hond) sy neus so onder sy arms in en ruik die lekkerheid.

Daai hond was baie lief vir jou oom. Jassie is dood presies ʼn jaar na oom Renier, by jou neef se huis, dag en datum.

O, en as jy dink dis vreeslik om lui te wees, dis nog erger om suinig te wees.

Jy weet oom Renier was net so suinig soos ek. Hy het nie gehou van mors nie. Hy wou altyd die laaste bietjie uitkry.

Toe het hy so ʼn botteltjie stroop. Hy kon nooit die laaste bietjie stroop uitkry nie, want dis mos taai en dit loop swaar. Toe kom een van sy vriende daar kuier, en hy sê ʼn mens moet die stroop net vir so 15 sekondes in die mikrogolf sit en dan is dit lekker warm en loperig. Dan kry ʼn mens maklik die laastes uit.

Maar onthou, teen daardie tyd was jou oom nie meer lekker nie. Hy het gesukkel om te loop, en om op sy knieë te kruip was vreeslik.

In elk geval, toe oom Renier by die volgende bottel kom, wou hy ook die laaste bietjie aan die onderkant van die bottel uitkry. Hy sit toe die bottel in die mikrogolf, maar hopeloos te lank – seker ʼn minuut lank.

Toe hy die mikrogolf se deur oopmaak toe sien hy die bottel trek so skeef. Hy het die bottel styf toegedraai gehou ook. As hy hom net ʼn bietjie oopgedraai het, was daar nie moeilikheid nie, maar hy sien daai bottel lyk snaaks.

Maar in elk geval, jy weet mos as die moeilikheid groot is, dink mens mos nie reg nie. Plaas het hy die mikrogolf toegemaak, maar nee, hy staan en kyk wat gaan die bottel maak.

Daar ontplof daai bottel stroop. Daar trek die stroop van die mikrogolf tot teen die wasbak, oor die stoof, oor die kaste, en op die vloer lê daar ook stroopdruppels.

Toe moes hy op sy knieë daar rondkruip om die stroop op te vee, en dis mos ʼn taai ding. Dit was ʼn groot skoonmaak gewees.