Ek hou nie van goggas nie, maar dit lyk asof my familie ʼn interessante verhouding het met al wat ʼn gogga. Ons het selfs ʼn gogga ʼn nuwe naam gegee.

Op my oom Renier se plaas (wat eers my oupa se plaas was), is daar sulke ronde torre. Ons het hulle altyd die Vanstadentorre genoem, maar dis nie hulle regte naam nie. Ek weet nou nog nie wat is hulle regte naam nie. Eendag het ek my pa gevra hoekom ons familie hierdie naam vir die gogga het.

My pa het vertel:

Jou oupa het my vertel dat hulle eenkeer gaan jag het. Toe het hulle potjiekos gemaak, maar die pot was nie toe nie. Dit was ʼn vleispotjie gewees. Dan vlieg die torre daar en val dan in die potjie.

Die hele aand lank het oom Van Staden kaiings geëet uit die pot uit. Die volgende môre het hulle vir hom gesê hy het torre geëet. Van toe af noem ons dit ʼn Vanstadentor. Daai naam is al horingoud, maar dis seker net ons wat dit so noem.

 

Hier is sommer een van my eie stories:

As ons op die plaas gaan kuier het, was daar vreeslik baie goggas, en ons klomp stadskinders het niks daarvan gehou nie. Al was dit hoog somer in die Kalahari, het ons binne-in ons slaapsakke geslaap sodat die goggas ons nie beetkry nie. Dan is ons papnatgesweet en my pa raas, want ons sal mos doodgaan van die hitte.

Gepraat van goggas: eenkeer het ons gekuier by oom Renier-hulle op die plaas en hy het so ʼn swart keps gehad. Hy kom toe een slag in die kombuis en lig sy keps en daar sit toe ʼn reënspinnekop wat vir ons loer met sulke swartogies.

Ek vind toe later uit dat die reënspinnekop eintlik in die spens gebly het. Die spinnekop het in sy keps gaan lê, seker vir hitte. Dis toe dat hy ons almal skrikmaak met die spinnekop in die keps. Hy was glad nie bang vir goggas nie, en het ook nie sommer ʼn spinnekop doodgemaak nie. Hy het hom maar net weer buite gaan sit.

Weereens, ons klomp kinders hou nie van goggas en allerhande agt-been kreature nie. Toe is ons baie katvoet vir ons oom en spinnekoppe daai naweek.

Ja nee, ons hou nie van spinnekoppe nie, maar ons hou van kattekwaad. My broer het so ʼn groot swart knopiesspinnekop gehad, ʼn lelike een, maar darem net plastiek. Ai, en pa is mos onoplettend. Dan stel ons hom oral op dat hy skrik maar hy stel teleur want hy sien hom nie eers nie.

Toe stel ek die spinnekop vir my ma by die sitkamer se lig, en my ma het geskrik. Toe stel ek hom vir my pa by die telefoon se gehoorstuk. Hy het drie aande lank gepraat met die spinnekop teen sy gesig en niks agtergekom nie. Toe vergeet ek van die ding.

Die een aand toe antwoord ek die foon, en daar skrik ek vir die spinnekop wat ek self daar gesit het.