My pa het baie stories, maar sommiges is baie gebonde aan die era en nie almal sal dit snaaks vind nie. Soos byvoorbeeld die storie van oom Renier en die roomkan.

My pa het vertel:

Ek het ʼn pragtige storie, maar dis ook amper soos ‘Fiela se Kind’. As jy nie die geskiedenis ken nie, is dit nie vir jou snaaks nie.

My ma moes jou oom Renier vat om rugby te gaan oefen die middag en hy trek toe al sy rugbyklere en tokse en alles aan. Daardie tyd het die tokse yster studs onder aan gehad.

Ons het so ʼn ou blou Dodge bakkie gehad en my pa wou nie gehad het dat die bak beskadig moes word nie, so daar het vervoerbande (conveyor belts) op die bak gelê.

My ma en Oom Renier wou ry, en dan sommer ook verby die romery (maar dit was eintlik die kaasfabriek) ry om ʼn kan room daar af te laai. ʼn Kan room was omtrent tien gelling; dis vyftig, sestig liter.

Daai room word suur. Hulle maak botter en karringmelk daarmee. So binne die bek van die kan word dit styf en dis styf genoeg dat dit nie loop nie. Dis nou aan die bokant en jy sit ʼn deksel op.

Toe het hulle, my ma en oom Renier, gestop waar die hek is, daar waar jy uit die plaas uitry. Renier moes die hek oopmaak en daar trek my ma te vinnig weg en die roomkan val om. Die deksel val toe af.

Oom Renier sien dit en hy los die hek en hy hardloop om te spring en die kan te vang. Hy trap toe op die bakkie en die vervoerbande. Hy sien hoe bars daai room in die middel. Die room begin stadig uitloop net soos melk, maar as hy hom vinnig optel, red hy hom. Daar het nog nie ʼn druppel gemors op die bakkie nie.

Ai, maar toe hy op daai vervoerbande trap, toe gly daai tokse lekker en sy voet gly tot in die roomkan, en dit is op tot by sy knie. Nou kan jy dink hoe het die room geloop toe hy sy voet daar uitgetrek het. Alles is ʼn gemors, en daai room is suur.

Jou ouma het haar amper natgemaak soos sy vir hom gelag het.

Hy het hom maar skoongemaak, met ek weet nie wat nie. Daar was dalk ʼn ou sak of iets daar. Maar in elk geval, toe hy daai voet daar uittrek toe besluit hy, de hel daarmee, hy sal gaan rugby oefen.

Toe het hy hom skoongemaak soos hy kan, en met so suur been en al daar by die rugby aangekom.