Al my pa se familielede het honde, seker maar omdat hulle met honde groot geword het, en op ʼn plaas is dit darem ook goed om ʼn hond te hê. Soos enige dier, word honde siek, en dan moet hulle veearts toe gevat word. My pa het ʼn paar stories oor veearts-avonture.

My pa het vertel:

Oom Renier se hond was ernstig siek. Ek weet nie presies wat was fout nie, maar hulle moes veearts toe gaan. Toe hulle daar aankom toe sit die mense daar met al die siek hondjies en katjies op hulle skote.

Ek dink Renier se hond se naam was Boelie. Dit was ʼn humeurige hond, maar onthou, hy was siek. So hy was nog reg toe hulle sit en wag, en hy het seker ʼn halsband ook aangehad. Maar op ʼn stadium het Boelie hom opgeruk en toe glip hy uit jou oom se hande. Hy spring omtrent daar onder die honde en katte in. Die honde vlug waar hulle kan en die katte spring.

Toe hy uiteindelik vir Boelie onder beheer kry, toe sien hy hoe hang al die siek katte teen die spreekkamer se gordyne met hulle naels om van die groot gevaar af weg te kom.

Jou oom het hom toe redelik geskaam vir die hond.

Ek dink nou sommer aan ʼn ander keer toe oom Renier veearts toe is, maar die keer met ʼn boerbok.

Jou oom Renier het ʼn boerbok by oupa gekry, en toe vat hy hom saam plot toe. Dit was baie jare terug, voordat hulle terug plaas toe getrek het. Dit was ʼn hanslam, en die bok het daar soos ʼn hond gelewe en sommer lekker gebly.

Toe op ʼn kol sien Renier die bok se pens raak al dikker. Toe kom dit uit dat die bok nie kan piepie nie.

Toe sit hy die boklam in ʼn groot boks en vat hom veearts toe. Oom Renier skaam hom dood oor die hele ding. Die veearts het hom reggekry, ek weet nie hoe nie, en die bok kon weer piepie. Die bok het daar van ʼn groot nood ontslae geraak en daar word hy weer in die boks gesit, en oom Renier het die boks hier onder die arm.

Wat hy toe nie weet nie, is dat die bok nie heeltemal verlos was van sy nood nie. Hy het aangehou piepie toe hulle weer by die spreekkamer uitgestap het.

Toe hy daar in die ontvangsarea tussen die mense deurstap, toe het die boks al so natgeword dat die boklam deur die boks geval het. Sommer so tussen al die mense.

Die boks het geskeur en die boklam het hom byna vrek geval. Daar sien ʼn mens net ʼn geel stroom soos die bok nog piepie. Toe het Renier hom amper doodgeskaam.