Ek het nooit my ouma aan my pa se kant geken nie. Ek het maar net stories oor haar gehoor. Sy het soos ʼn interessante karakter geklink as ek luister hoe sy en die plaasdiere oor die weg gekom het.

My pa het vertel:

Jou oupa het op ʼn stadium ʼn springbokrammetjie gevang, en toe loop hy op die werf rond. Toe hy mooi groot is, en die hormone begin pla, toe begin hy stamperig raak.

Die wasgoeddraad was daar tussen die ou- en die nuwe huis, en dis waar ouma die wasgoed gedoen het. Ek dink die draad is nog steeds op dieselfde plek. In elk geval, toe hang sy wasgoed op daar, en hy was al stamperig gewees. Hy het haar al so gedruk-druk.

Toe het sy ʼn mandjie vol wasgoed en sy sit dit daar neer en sy het nie eers die springbok gesien nie. Toe sy so buk om dit op te tel, toe kom daai springbok van agteraf en hy stamp haar so in die boude dat sy bo-oor die mandjie val.

Toe my pa die middag by die huis kom, toe sê sy hy moet kies. Dit was of sy of die springbok, want een van die twee gaan nie meer op die werf wees nie.

Toe het ons maar springbokbiltong gemaak.

Daar is ook ʼn ander storie, maar dis sommer ʼn simpel storie van ʼn pou. Ek weet nie eers wie het die verdomde pou daar aangebring nie. Weet jy, daai goed het geskree – baie beter as ganse, hoor. As ʼn kar aankom, nog van ver, dan skree hulle. Hulle het ook op die karre gestaan en skree.

Ben het so BMW gehad, en dan klim hulle op sy bonnet. Maar die bonnet is skuins en soos hulle trap, dan krap hulle die verf af. O, Ben het moord in gedagte gehad.

Die poumannetjies is mos maar ʼn mooi ding en hy loop en pronk die heeldag. Hy wys nou sy vere so teen die son en so.

Die eendag loop hy en wys sy vere so en jou ouma sien hom, maar hy staan met sy minder blink kant na haar toe. Die pou staan niksvermoedend so en ouma loop treetjie vir treetjie nader.

Daar gryp sy die pou aan ʼn sleg plekkie en hy skrik hom boeglam vir haar.

Hy het daarna weer gepronk, maar hy het altyd gekyk waar jou ouma is.