As jy nie dokters vertrou nie, sal jy van hierdie storie hou.

My pa het vertel:

Oom Renier se pel, Karel, het in die myn gewerk en later het hy groot long moeilikheid gehad. Dit was so in 1994 gewees en toe is hierdie hospitale sommer nog reg gewees. Toe is hy hier by Nasionale hospitaal. Hy moes kom sodat hulle die helfte van sy een long kon afsny omdat dit heeltemal vrot van die rook was.

Ek het altyd gedink as hulle die long afsny dan het hulle so warm boud om die bloed vas te brand, want dis hoe ek met die beeste se horings gemaak het. As jy hom afknip dan vat jy die horingbrander, dan terwyl die bloed so by die are uitloop dan brand ek hulle dood. Dan bloei sy kop nie. (Dis maar goed my pa was nie ʼn dokter nie.)

In elk geval, Karel is hier en sy vrou is ingeboek in die Roberto Hotel net oorkant die hospitaal. Onthou, hy is daar sodat hulle die helfte van sy long kan wegsny. Die Maandagoggend 6uur moet hy ingaan vir die operasie.

Die Sondagaand is hy al ingeboek in die hospitaal en hy besluit dis darem ʼn lelike storie hierdie operasie, hy sal maar ʼn paar sigarette gaan rook daar buite. Nou gaan staan hy op die stoep en rook. Hy makeer mos niks nie, hy’s nog nie geopereer nie.

Toevallig toe kom die dokter of spesialis daar aan wat op hom sou opereer en hy trap vir Karel vieslik uit. Die dokter dreig hom en sê, “Ek is nie eers meer lus om op jou te opereer nie. Nog een sigarette en jy’s dood!”

Hy kyk toe daai dokter so en dink, maar wat wil hierdie dokters met my maak as nog een skamele sigaret my gaan doodmaak? Dan is daar mos nie hoop nie.

Karel stap toe daar na sy bed en maak sy goed bymekaar en pak sy tas, en hy gaan groet die ouens. Hy kom toe by sy vrou en sê hulle gaan ry.

Sy sê, “Maar jy moet geopereer word.” Hy vertel toe vir haar wat die dokter gesê het: nog een sigarette dan is hy dood.

Laat die aand trek hy hier (Bloemfontein) uit terug Kalahari toe. Hy het geboer daar naby Postmasburg êrens, ek weet nie waar presies nie. Die volgende more sesuur het hy by sy plaas ingetrek en dit het so lekker saggies gereën.

Dit het in 1994 gebeur en hy is in 2015 aan sy longe dood. So, daardie dokters wou hom net verniel het. Hy het nie ophou rook nie, maar hier op die ent het hy suurstof gekry.