My pa is baie lief vir diere – jy kan maar net sy drie honde by die huis vra. Daardie honde is soos sy kinders, en my ouers het my juis met ʼn hondjie vervang toe ek getrek het. Maar my pa het nie net honde as troeteldiere gehad as kind op die plaas nie, maar vele ander ook.

My pa het vertel:

Ek het eendag ʼn blouvalk se nes in die vlak gekry. Jong, ek het geklim in daardie kameelboom en daar was vreeslik dorings en takke. Later het ek ʼn snoeiskêr saamgevat dat ek makliker kan klim en in die nes in kyk. Ek kyk toe die storie so, en hou dit dop.

Later broei daar ʼn valkie uit. Jong, toe daai kleintjie net so mooi begin vere kry toe besluit ek dis myne. Ek vat toe daai valk, maar ai, dit het net vir my nonsens aangebring. In elk geval, ek maak hom toe groot. Sy naam was Banda, vernoem na die president van Malawi.

Ek het van my eie kos, my vleis, vir hom gevoer en daai valkie word toe mooi groot. Hy kon vlieg, maar hy het nie weggevlieg nie.

Daar voor die ou huis was so ʼn droë boom gewees. Toe was die valk al mooi groot gewees. Dan skiet ek met die windbuks voëltjies en hy kyk alles hier uit die boom uit. Ek gooi dan die voëltjies vir hom en hy kyk die ding net so. As dit naby genoeg is, dan steek hy net sy klou so uit en gryp die voëltjie.

En weet jy wat? Dan trek hy eers al die vere van die voëltjie af voordat hy hom begin eet. Ek het dit nooit geweet nie. Dit maak seker sin, want vere is seker nie baie lekker nie.

Later toe is die valk ʼn groot las en ek het hom vir ʼn ander oom gegee. Daar vat hy hom Wepener toe, maar hy kon darem daar rond vlieg.

Daar was hy seker baie verveeld, want toe het hy die buurman se hoeders gaan vang, en die buurman het hom op die ou end doodgeskiet. Dis hoe die valk aan sy einde gekom het.

Maar ek het baie ander klein voëltjies grootgemaak, hasies ook, en krimpvarkies. Hulle het nie in die huis geslaap soos die honde nie.