Hier in Australië praat almal Engels en ʼn mens mis Afrikaans. Selfs in Suid-Afrika is daar is ʼn paar Afrikaners wat net Engels praat as die nood hoog is, amper soos die volgende storie.

My pa het vertel:

 

Weet jy, sus, ek ken ʼn mooi storie. Die ouens is in 1975 in Angola in. Niemand het dit geweet nie. Dit was maar alles politiek, en hulle was net so 500 manne. Hulle het omtrent die hele Angola verower, en dit was ʼn klomp staande maglede en gewone dienspligtiges.

Dis maar ʼn lang storie, maar hulle het nie eintlik weerstand gehad nie. Hulle het omtrent 100 kilo’s ʼn dag opgeruk en die dorpe verower.

Maar toe het die koerantmanne snuf in die neus gekry dat daar Suid-Afrikaanse troepe daar bo is. Hulle het die troepe toe geleer dat hulle moet sê hulle is huursoldate van Engeland af.

En Lobito was ʼn hawestad gewees. Daar is toe ʼn troep hier uit die Karoo, Namakwaland uit, wat Engels nog nie eers op die radio gehoor het nie. Hy het darem Engels so half verstaan, jy weet, hy was darem op skool.

Die klomp het op die strand geloop. Dit was jong seuns van omtrent 20 jaar ou, en hulle was al bruin gebrand. Toe is daar koerantmanne daar. Nou kyk die koerantman die seun so en vra, “Where are you from?” Hy moet toe die rympie sê wat hy uit sy kop uitgeleer het. Hy sê, “I’m a mercenary from Great Britian”.

Die man kyk hom so en hy vra, “How old are you?”

“Ek is agttien, oom,” sê die outjie.

Daar is die hele game toe weggegee.

 

Dis snaaks, want gewoonlik as my ouers Engels praat dan begin die ander mense Afrikaans praat. Hulle raak darem al beter.

Hier in Australië, is dit baie voordelig om Afrikaans te praat. As iemand iets aan jou wil afsmeer, dan gooi jy Afrikaans en dan los mense jou baie vinnig uit. Wat doen ek as die persoon Afrikaans verstaan? Wel, dan sê ek vir hulle in hulle eie taal dat ek nie belangstel nie.