Daar is ʼn dorpie in die Kalahari met die naam Hotazel, maar die mense noem dit sommer ‘hot as hell’. Daardie naam is akkuraat, want soos die meeste van die Kalahari is dit belaglik warm daar. Daar is heelwat ander plekke wat ook beskrywende name het.

My pa het vertel:

 

Kyk, in die ou dae het jy mos Leeufontein en Wolwefontein en so aan gehad. Daar was ʼn goeie rede daarvoor gewees. As die plek se naam Leeuspruit was dan beteken dit jy speel nie daar nie, want die leeus gaan jou vang, soveel was daar.

Ek het ʼn oom Dier van der Merwe geken. Ek weet nie wat was sy regte naam nie, almal het van oom Dier gepraat. Oom Dier se pa het hom vertel dat sy oupa in die Vrystaat en Transvaal transport werk gedoen het. Hy het lorries gehad, en daardie tyd was die lorries se enjins donkies gewees, en die lorries was waens was ʼn kilometer ʼn uur geloop het. Hulle het sommer drie maande Johannesburg toe getrek.

Hy het kruideniersware en so aangery. Toe oom Dier en sy broer klein seuntjies was dan het hulle saam getrek met die waens. Elke aand het hulle gestop en slaapplek gekry of gemaak. Dan skiet hulle ʼn bokkie en braai vleis en so aan, jy weet.

Hulle kom toe hier by die Vetrivier. Hulle het ook later gesien waar is ʼn drif waar jy kan deurtrek as die rivier nie in vloed is nie. Toe het hulle nie ʼn brug geken nie.

Toe is daar sulke dik riete en Oom Dier en die werkers en die honde gaan speel in die dik riete. Hulle speel hulle is jagter en hulle jag leeus. Dan gaan kruip ʼn paar van hulle in die riete weg. Dan kom die een ou met die honde, en die klomp in die riete brul soos leeus.

Die een sê later, “Hel, maar hulle brul nogal met dik stemme.” Toe is daar ʼn regte leeu wat bedreig voel wat so brul tussen die riete. Gelukkig vang hy toe nie een van hulle nie. Hulle het wa toe gehardloop, en toe is almal sommer moeg gespeel.