Hierdie volgende storie was lank voor my tyd, en ek betwyfel die akkuraatheid van sommige daarvan, maar jy moet maar self besluit.

My pa het vertel:

 

Ek dink nou aan ʼn storie. Dit was hier in die tyd van die terroriste.

Die man en sy vrou was so bang vir die terroriste. Dan gaan kuier hulle in die aand vir mense en na die tyd ry hulle terug plaas toe. Hulle stop dan by die plaas se hek, en die vrou sê sy gaan nie die hek oopmaak nie, en die man wil ook nie uitklim nie. Hulle was altwee bang vir die terroriste. Weet jy, dan sit en slaap hulle daar voor die hek totdat dit lig is.

Bygesê, hy het een slag vir haar weggery toe sy die hek oopgemaak het. Jy weet, hy het van haar vergeet. Dit was eintlik waar sy die knou gekry het. Daarna wou sy nie meer die hek oopmaak nie, want sy was te bang hy ry weer vir haar weg. Die man is self is te bang om die hek oop te maak.

Maar in elk geval, hy koop toe vir hom so ʼn nuwe geel Chev bakkie en dit staan daar naby die huis. Onthou, dit was wilde wêreld daardie. Daar kom een aand ʼn perd in die erf en hy sien die geel bakkie daar staan. Die maan kom toe kop en toe lyk daardie geel bakkie nes kaas. Daar hap die perd lekker met daai perdetande aan die bakkie. Hy hap toe sommer ʼn paar happe. Dit was darem nie groot skade nie, maar daar was lelike strepe in die kar se verf. Daai man het moord in gedagte gehad.

Intussen het die man ʼn koei gehad wat nie kon kalf nie. Hy ry met sy bakkie na die koei toe en hy sien ʼn klomp aasvoëls. Toe het die aasvoëls omtrent die koei en die kalf opgevreet. Hulle is so dik gevreet dat hulle nie kan vlieg nie, hulle spring net so in die lug.

Daar is nie eers klippe om die aasvoëls ʼn ding of twee mee te leer nie. Toe vat die ou sulke stokkies wat hy daar optel, en hy gooi dit so na die voëls toe.

Hy is so moedeloos en sê, “Nou hoe moet ek boer? Die voëls vreet my koei op, die perd vreet my kar op, en die terroriste is orals!”