Baie lank voor my tyd, het my oupa geboer met skaap en bees naby Kuruman. Dit was baie werk, maar gelukkig het hy baie kinders gehad om te help.

Ek weet my pa het baie windpomp reggemaak, wat self ʼn nare werk is, maar my oom het baie gehelp met nuwe vee wat by die vendusie gekoop is.

My pa het vertel:

 

In daardie dae was dit Donderdae vendusie. Toe was jou oom nog by die huis, maar later het hy hom vererg en is koshuis toe. Ek kan nie meer onthou presies hoe oud was hy nie, seker so standerd 7 of 8. Hy was die enigste een wat in die koshuis gebly het. Die res van ons het maar by die huis gebly. Jy sal nou-nou sien hoekom hy so naar was vir die huis. Maar in elk geval, hierdie storie was voordat hy koshuis toe gegaan het.

Hy het Donderdae middae so koue rillings gekry. Die middag het my pa die kinders by die skool gaan haal, en dan sit jou tannies Liezel en Elna voor in die bakkie en jou oom moet maar agterop sit.

Jong, as jy daar by Kuruman inry, so aan die regterkant was die afdraai vendusiepale toe. Dan weet hy, as pa stadiger ry, het jou oupa iets by die vendusiekrale gekoop. En dan moet jou oom dit natuurlik plaas toe aanjaag. Nou die plaas is nie sommer om die draai nie, dis so ses kilometer van die dorp af.

Dit het nie net een keer gebeur nie, dit het sommer baie gebeur. Wel, genoeg dat hy koshuis toe getrek het.

Onthou, dis na skool wat dit altyd gebeur het, hy het nog nie eers geëet nie. So dan het oupa skape en bokke by die vendusie gekoop en hy gaan laai die kinders op by die skool, en hy laai jou oom af by die vendusie.

Dan moet jou oom die goed aanjaag. Dis maar moeilik, want dis vreemde skaap en hulle loop deur die veld tot by die grondpad, en van daar af word hulle plaas toe gejaag. Dit was ʼn nagmerrie gewees.

Hy het my pa altyd so mooi gevra dat hy net iemand reël om hom te help aanjaag, want hy kan nie orals keer nie. Jou oom het gesê dat hy meer agter skape aangehardloop het as op die rugbyveld. En ou sus, as ʼn skaap wegraak, sou my pa jou lelik beetkry. Hy het nie gespeel met ʼn kind nie.

Maar in elk geval, op die dag het my pa nogal ʼn ou gereël en hy het ʼn mooi troppie skaap gekoop, en toe moet jou oom hulle aanjaag.

Toe hulle by die hek kom, toe sien jou oom dat die weer dreigend is; ʼn groot storm was op pad. Hy vra toe vir my pa, kan hy nie net vir hom ʼn jas bring nie, want hy gaan nat reën. Onthou nou, hy het sy wit skoolhemp aan.

Jou oupa gaan kyk toe daar agter op die bakkie en daar lê ʼn steenkoolstreepsak; vir watter rede weet ek nie. Dalk was dit vir die donkie. Maar in elk geval, my pa besluit toe hy maak ʼn plan met daardie steenkoolsak.

Kan jy jou nou voorstel hoe lyk ʼn steenkool sak? Dis vieslik vuil, swart. Nou vat jy daai steenkool sak, jou oom het my so mooi gewys, jy lig hom so op en druk jou hand in. Dan maak hy hom nou so, ʼn tuit oor die kop en hang oor die skouers.

Daardie dag reën dit omtrent drie duim. Hy was papsopnat en daai swartwater het oor sy gesig geloop, deur sy witskoolhempie, oor sy broek, tot binne-in sy skoene in. Hy het gesê al een wat hom jammer gekry het, was ons ma, want sy moes daai klere was.

Op ʼn ander geleenheid was hy weer besig om skape aan te jaag plaas toe, en die weer was vieslik en stormagtig. Toe hy my vertel het, toe weet ek presies by watter boom dit gebeur het.

Nou as die weerlig so naby jou slaan, dan kraak dit so. Hy sê, ‘jong, daai weer kraak en ek is bang hy slaan my dood’. Maar dit was net hy wat bang was, my pa was nie bang hy word doodgeslaan nie.

Hy maak hom toe maar reg vir ʼn groot donderstorm. Die keer het hy nou nie ʼn steenkoolsak nie. Die weer was al lelik en skielik het hy ʼn flits gesien, en op dieselfde tyd het daar ʼn swaeltjie teen sy kop vasgevlieg.

Hy sê hy dog dis weerlig wat hom slaan. Hy skree, ‘Wha!’ Toe val hy sommer op die grond daar. ʼn Oomblik later toe sien hy dis nie weerlig nie.

Gelukkig was niemand by gewees nie, want hy sou hom doodgeskaam het omdat hy so geval het oor ʼn swaeltjie.

Die weerlig het hom nie geslaan nie, maar seker so vyftig tree van hom af het die weerlig geslaan.