Ons is baie lief vir ons honde en hulle is soos my ouers se kinders. Hulle word lekker bederf en eet gereeld saam as daar iets lekker te eet is. My pa veral, deel graag van sy kos met die honde, maar een keer het ʼn hond dinge in haar eie hande (of eerder pote) gevat.

My pa het vertel:

Ai, ou sus, ek ken die storie maar sleg. Ek weet net, julle was nog in die laerskool en jou broer het so ‘n lekker sjokoladekoek gehad vir sy verjaardagpartytjie. Toe het ou Cindy, daai vet boerboel van ons, besluit daai koek lyk darem te lekker.

Daardie koek staan toe daar op die eetkamertafel terwyl al die maatjies buite speel. Cindy het op ʼn manier op ʼn stoel geklouter en die koek geproe, en daar proe sy toe dat die resep sommer reg is. Jou ma het haar nog gevang toe sy die koek so met haar poot nader gekrap het. Teen daardie tyd was ʼn derde van die koek al opgevreet. Toe het ma die koek so gesny rondom waar die hond geëet het en gered wat daar te redde was.

Die volgende jaar het ons mos geweet Cindy hou van sjokoladekoek en toe word die koek, bo-op die mikrogolfoond gesit, wat op die toonbank gestaan het. Toe is die koek mos nou hoog, en veilig… of so het ons gedink.

Wat ons nie geweet het nie, is dat Cindy die balans en ratsheid van ʼn wêreldkampioen gimnas gehad het. Daar was so ʼn bar stoeltjie waarop jy altyd gesit het, en sy bêreplek was daar voor die toonbank by die mikrogolf.

Weereens, was die koek alleen gelos in die huis, terwyl al die maatjies buite speel. Toe het Cindy die bar stoeltjie so gekyk, en die koek bo-op die mikrogolf so gekyk, en sommetjies gemaak. A nee a, sy sal dit maak.

Daai vette lyf het toe op daardie stoel geklim en sy het haar uitgerek om tot bo-op die mikrogolf by die koek uit te kom. Man, toe eet sy lekker.

Ek kan nou nie onthou wie het haar gevang nie, maar ek het dit moeilik gevind om te glo dat Cindy so akrobaties is. Dit was totdat ek die gat in die koek en die krummels om haar bek gesien het.

Jou broer het moord in gedagte gehad.