My pa het al baie gesê, “Brandewyn is ‘n lelike ding” en hier is nog ‘n storie wat dit bewys.
My pa het vertel:
Ou sus, hierdie storie het jou oom Renier vir my vertel. Dit was baie jare terug, in 1969, en ek was nog klein. Maar toe het brandewyn maar gesmaak nes hy nou smaak: baie lekker en hy het dieselfde effek op mense gehad.
In elk geval, die voertuie was maar swak, maar ook duur net soos nou. Toe het ʼn nuwe Datsunbakkie iets soos R1500 gekos. Onthou, as jy R150 ʼn maand verdien het, was dit baie geld. Jy kon ʼn bakkie koop en finansier daarmee.
Toe het die ouens daar in die Kalahari ʼn groot jagnaweek gereël en oom Herman en Renier was ook daar. Daar kom toe ʼn ou daar aan met so ‘n lemmetjie groen Datsunbakkie. Die bakkie was splinternuut en die plastiek was nog oor die sitplekke.
Hulle gaan jag toe en ek weet nie wat het hulle alles geskiet nie, maar daai aand is daar vleis gebraai en toe is daar heeltemal te veel brandewyn. Toe hulle daai brandewyn minder gemaak het, toe het hulle sommer moed.
Daai ou vat toe sy splinternuwe bakkie en hulle gaan jag springhase. Hulle kry toe ʼn paar, en soos hulle springhase vang, gooi hulle dit in ʼn streepsak agterop die bakkie.
Ek weet nie hoekom nie, maar hy besluit toe hy wil ʼn paar springhase saam vat huis toe, in die dorp. Hy maak toe ʼn paar springhase voor in sy nuwe bakkie toe.
Jong, ʼn springhaas lyk net soos daai groot springhase van julle, die kangaroes. Hy kan ʼn gevaarlike skop gee en hy het skerp naels.
In elk geval, die volgende more word die ou wakker met ʼn groot hoofpyn. Toe hy by daai bakkie kom, toe is dit te laat. Die springhase het probeer gate grawe in die kar se sitplekke. Daai sitplekke was aan flarde. Hulle het ook drade afgebyt en raakgeskop, soos die onder die stuurwiel en so.
Die ouens moes die bakkie van daar af getou het tot by ʼn garage dat ʼn ou hom weer kon regmaak en sy drade bymekaar kry, en hy moes natuurlik ook nuwe sitplekke koop.
Dis nou die vrug van brandewyn daardie.