Ons het al baie moeilikheid met karre gehad, maar daar was ander mense wat dit erger gehad het.

My pa het vertel:

 

Ai sus, dis eintlik maar ʼn ou grappie, maar ek vertel maar. Ek weet jou oom Renier kon die storie so mooi vertel.

Toe die karre al ʼn bietjie beter was, toe is daar ʼn ou wat redelik ryk is. Hy koop toe vir hom ʼn kar, maar die karre se deure het daardie tyd verkeerde kant toe oopgemaak. Hy en sy vrou en twee kinders ry toe lekker. Hulle ry plaas toe.

Hulle is aan die ry, en op ʼn kol kry die ou die gedagte: maar hoe kry hy die kar gestop? Hy kon dit toe nie meer onthou nie. Toe probeer hy die kar stop, maar die kar hou sy spoed. Die kar het toe ʼn hefboom gehad vir die petrol en as jy nie die hefboom terugdruk nie, dan hou hy aan op daai spoed.

Hy sê toe vir sy vrou daar is groot moeilikheid. Die ding hardloop weg met hom en hy kan dit nie gestop kry nie. Hy sê vir haar, “Maak jou deur oop en spring uit voor ons verongeluk. As jy uitgespring het, sal ek ook uitspring.”

En sy vra, “Nou wat van die kinders?”

Hy sê, “My vrou, maak die deur oop en spring! De hel met die kinders.”

In elk geval, toe spring hulle uit. Die kar het aangehou ry, maar sonder iemand wat die stuurwiel beheer, het die kar ʼn bietjie gedraai en toe het hy hulle in dik sand gevat, en daar gaan doodtrek teen die sand. Dit was ʼn kilometer of wat verder.

Toe moes hulle maar loop en die kinders weer aandurf en weer van voor af begin.

Daar is ʼn ander storie van ʼn ou met dieselfde moeilikheid. Hy kom op die plaas, en hy het nogal ʼn garage gehad. Hulle het van ʼn waenhuis gepraat. Toe ry hy so in die rondte.

Nou, hy weet nie hoe om te stop nie. Toe sê hy vir sy vrou, “Maak daai waenhuis se deure oop, en as ek in is dan maak jy hom weer toe dat die kar nie kan uitspring nie.”

Toe gaan ry hy daar in die muur vas. Die kar is natuurlik morsdood, maar daai karre was hard.

Weet jy, ek dink nou sommer aan ʼn ander storie. Jy weet mos ek het by die busdiens gewerk. Daar was so geel Corolla gewees. Nou sit oom Willem daar in Botshabelo en hy was die depot bestuurder. Jong, en hy was ook baie sindelik met karre.

Nou was daar so jong outjie, foeitog, maar ʼn ou dommetjie. Ek kan nou nie onthou wat sy naam was nie.

Hulle het daar in die kar, die Corolla, ʼn luidspreker gehad waar jy oor die radio kon praat. Jy kon vir die passasiers sê hulle moet ʼn bietjie wag, of die bus kom nou, jy weet, sulke goed. Maar jy kon ook die radio stel dat jy ook met ʼn mikrofoon met die ding kan praat. Nou sit Willem in sy kantoor en hy weet die outjie gaan die kar was.

Nou was die outjie die kar en hy begin so vryf, dan hoor hy “eina, eina!” Nou, oom Willem sien alles van die kantoor af. Daai outjie spring so weg en kyk die kar so. Hy sê, “Moenie so hard druk as jy my was nie, dis seer.” Die outjie is baie verbaas, maar hy was weer.

Dan sê hy, “Nee jong, jy krap my. Maak daardie lap ordentlik nat.” Dan sê hy later, “Jy moet kyk hier agter. Jy moet my mooi skoon was.”

Die outjie was verstom oor die kar wat kan praat. Hy het mos nou nie geweet dis oom Willem wat met hom praat nie. Ag, ek dink hulle het hom maar later die waarheid vertel.