Toe ons klein was, het my pa vir ons baie stories vertel. Dit was sommer so ‘Jakkals en Wolf’ of ‘Klein Duimpie’ en sulke dinge. Die meeste van die tyd het hy sommer die stories opgemaak soos hy aangegaan het, en dan was ek baie agterdogtig dat die stories verander het elke keer wat hy dit vertel het.
My gunsteling storie is die een van die meerkatte en slang – jy weet, ʼn regte Kalahari storie.
My pa het vertel:
Daar was so ‘n trop meerkatte in daar in die Kalahari, so tussen die rooi sand. As die stokstertmeerkatte hardloop dan is hulle stertjies mos so regop, en as hulle staan en die wêreld bekyk, dan staan hulle so lank met hulle hande hier by hulle bors.
Daar is baie gevare vir ʼn meerkat, so daar sit altyd een van die trop in ʼn boom en kyk vir ʼn arend of valk wat hulle wil vang.
Eendag sit die meerkatte houtgerus in die sonnetjie, en skielik skree die meerkat in die boom dat daar ʼn arend in die lug is.
Al die meerkatte hardloop dat dit bars vir hulle gate. Wat hulle nie weet nie is dat daar ʼn luislang lê in die paadjie waar hulle moet hardloop op pad na hulle gate toe. Toe daai slang hoor hulle skree en is aan die kom, toe maak hy sy bek so groot oop dat dit soos ʼn gat lyk.
Daardie meerkatte was so haastig dat hulle nie eers agterkom dat hulle in die slang se bek inhardloop nie. Hulle hardloop sommer met ʼn stink spoed in daai bek in, so dat dit eintlik sulke hobbels op die slang se rug maak. Hulle hardloop toe al die pad deur en by die holletjie uit.
Hulle was toe verbaas dat daar weer sonlig was aan die ander kant van die ‘gat’.
O, ek onthou julle het dit baie geniet en lekker gelag, maar dit was sommer so storie.