Ek het nog nooit verstaan hoekom mense leeus wil jag nie, maar hoe dit ook al sy, dit klink soos ʼn duur storie. Maar dinge gaan nie altyd volgens plan op sulke jagtogte nie.

My pa het vertel:

Jy onthou daai ander storie van die ou met die wildsplaas, né? Daar kom een keer ʼn Hollander daar aan. Hy wou toe ʼn leeu skiet met so ʼn pylgeweer – ʼn kruisboog. Hy betaal ook ʼn helse klomp geld. Hulle ry toe rond in die bakkie en toe hulle ʼn leeu kry toe is dit ʼn befoeterde leeu daai, hoor. Die man weet toe sommer daar is moeilikheid.

Die leeu klim daar in ʼn paar digte bosse. Maar met die pylboog kan jy mos nie in die bos skiet nie. Dis toe die jagter, die man wat die plaas besit, en die plaasvoorman agter op die bakkie. Die plaasvoorman het baie moed gehad. Hy was eintlik maar ʼn rowwe outjie.

Dis mos daai plaasvoorman wat die mamba sommer daar onder die sakke uitgepluk het en gou doodgeslaan het. (Dis nou hier waar ek baie vrae gehad het oor die rowwe ou.)

Man, hy het die voorman gehad en daar is vertel dat as die beeste hom kwaad maak in die drukgang, dan klim hy in en stamp hulle met die kop, en ʼn bees se kop is hard, hoor. Ja nee, rowwe een daardie.

Oom Erik sê vir hom daar is ʼn lelike swart slang daar in die stoor. Hy sê toe die voorman moet ʼn plan maak, jy weet, seker maar iemand bel of so. Nee wat, die mannetjie sê toe hy sal hom doodmaak. Toe staan hy met ʼn ysterpaaltjie en hy trek die sakke weg totdat hy die slang kry. Hy trek die slang toe so aan die stert nader en koeps, daar slaan hy hom dood.

Toe hulle die ding mooi bekyk, toe is dit ʼn nege voet swartmamba wat hy doodgeslaan het. Oom Renier het die foto gesien waar die ou op die kap van ʼn bakkie staan so met die slang en dan raak hy aan die grond.

Maar in elk geval, om terug te kom by die storie, die rowwe mannetjie wat te dom is om bang te wees, is darem ʼn man wat kan korrel en skiet. Nou gaan hulle nader, want hulle moet die leeu uit die digte bosse kry sodat die man ʼn skoot kan inkry.

Jong, en daai leeu het vir hulle gekyk en gekyk maar hy kom nie uit nie. Hulle gaan later al nader, en daar is ʼn ou met ʼn videokamera om die skiet van die leeu af te neem.

Toe daai leeu sien die ouens keer hom vas, toe besluit hy, hy gaan byt vir dood byt, en die leeu storm daar uit. Jong, ʼn leeu is vinnig, hoor! Maar gelukkig ken daai manne leeus. Hoor hier, toe skiet hulle daai leeu dat hy hier voor hulle kom val dat die stof so teen hulle skoene spat.

Toe sê oom Erik vir die Hollander hy is vreeslik jammer dat sy leeu geskiet is wat hy wou gepyl het. Toe sê hy, “Nee man, hierdie video is baie beter as wat myne sou gewees het”. En daar is die man toe heel tevrede daarmee.