My pa het baie stories, maar hy het ook deur die jare baie stories by ander mense gehoor. Onder andere het hy ʼn storie gehoor van ʼn Engelsman wat ʼn verrassing op ʼn jagtog gekry het.

My pa het vertel:

Ou sus, hier in die sestigerjare was daar ʼn besigheidsman in die Kalahari. Ek kan nie sy naam onthou nie. Kom ons noem hom sommer Johan. Nou hy het besigheid gedoen met ʼn ou in Johannesburg. Die ou is ʼn rou Engelsman, en jong, die ou het hom ʼn groot guns gedoen. Johan nooi hom toe vir ʼn leeujag.

Maar hy sê nie vir die ou dat hulle in Botswana gaan leeu jag nie. Dis natuurlik onwettig gewees. Hulle ry toe daarheen. Sê nou maar dis Johan, die Engelsman, twee ander vriende, en twee werkers, wat Botswana toe gaan.

Soos ek gesê het, dis baie jare terug. Jy kon die draad net plat druk en deur ry. Dan is dit soos om in ʼn wildtuin te ry. Daar was baie wild, maar dit was droë wêreld. ʼn Kar moes nie daar breek nie, en jy moes darem altyd water by jou hê.

Hulle ry toe en kry leeus. Hulle het ʼn wyfie geskiet en op die bakkie gelaai. Wat hulle toe nie weet nie, is die leeumannetjie is daar naby en die wyfie was op hitte gewees. Toe is die leeumannetjie lelik omgekrap oor die storie. Maar ja, hulle weet niks daarvan nie.

Hulle het houtgerus weggery en na so tien kilometer of so besluit hulle om te stop om kamp te maak. Hulle is toe bly hulle is klaar – die Engelsman het sy leeu gekry.

Die manne kry toe hout om vuur te maak want hulle wou braai die aand. Dit was toe nog so laat middag. Alles is opgestel dat hulle daar kan slaap die aand, en die volgende dag kan terug ry.

In tussen het die leeumannetjie die bakkie se spoor gevat. Die werkers het nog hout bymekaar gemaak, so hulle was die verste van die kamp af. Toe daardie twee weer sien, toe sien hulle daar kom ʼn leeu aan. Hulle hardloop bakkie toe, en spring voor in die bakkie in en sluit die deure.

Al die gewere is natuurlik ook in die kar. Toe Johan-hulle weer kyk toe sien hulle daar kom die leeu aan. Maar hy hardloop nie, hy stap net. Onthou, die bakkie is gesluit en die mense wil nie oopmaak nie.

Hulle sien toe hulle moet ʼn plan maak. Dis die dat hulle besluit hulle moet onder die bakkie inkruip, maar daai Engelsman is te dik. Hy sê hy kan nie inkom nie, hy’s te vet. Die manne sê vir hom hy moet grawe anders word hy opgevreet. Toe grawe hy soos ʼn erdvark.

Toe grawe hulle onder die bakkie ʼn gat en skop die sand uit. Die leeu het daar rondgeloop en ʼn paar brulle gegee, jy weet.

Na ʼn uur brul hy nog, en hulle is onder die bakkie.

Hy het vertel hy kon twee goed duidelik onthou. Die een is hoe donker dit was onder die bakkie waar hulle dit uitgehol het. As die leeu wou, sou hy hulle in elk geval daar uitgegrawe het. Tweedens, ook hoe koud dit was.

Maar onthou, die twee werkers sit nog binne die bakkie. O, hulle is lelik gevloek die volgende more, maar gelukkig is die leeu weg.

Op die ou end het hulle maar opgepak en teruggery. Daai Engelsman sal daardie leeujag in sy lewe nooit vergeet nie.