Vandat ek kan onthou het ons honde gehad. Ons is almal baie lief vir die honde, en hulle is baie lief vir ons.

Ongelukkig het ons ook al vir ʼn paar honde gegroet, en ons weet sommer hulle is hondehemel toe.

Dit is moeilik om ʼn bejaarde troeteldier te hê, want jy sien hoe hulle sukkel en oud word. Sekere goed wat altyd vir hulle maklik was om te doen word moeiliker. Later word hulle siek en dan moet ʼn mens die regte ding doen.

Ons het ʼn boerboel, Eddie gehad. Wel, ons het maar gedink hy was ʼn boerboel, maar hy het soos ʼn mengsel tussen ʼn klomp goed gelyk. Hy was vernoem na Eddie, die hondjie in Frasier.

In 2020 was hy al ʼn ou baba, 12 jaar oud, en ʼn mens het dit gesien. Hy het gesukkel om te loop of te staan vir lank, maar hy het altyd sy ou stertjie gewaai as jy met hom gepraat het en hy het baie van aandag en cuddles gehou.

In daardie laaste week van sy lewe, het hy baie agteruitgegaan. Hy het baie opgegooi en net rondgelê. Hy het nie eers sy ou stertjie gewaai as jy met hom gepraat het nie. Ons het hom veearts toe gevat, maar hulle kon niks vir hom doen nie. Hulle kon net pynmedikasie gee sodat hy gemaklik kon wees.

Ons het besluit dat dit die beste sou wees om hom uit te sit sodat hy nie verder ly nie. So, die volgende dag het ons hom veearts toe gevat vir die laaste keer.

Ek en my broer het hom gevat. Eddie was my baba en nou moes ons dit aan hom doen. Ek het sy koppie vasgehou en gevoel hoe sy lyf pap word soos hy die tydige met die ewige verwissel.

Ek het vreeslik gehuil. Hy was dan so ʼn goeie hond gewees.

Die veearts was dierbaar en het gesê dat ʼn hond twee werke in sy lewe het – om ons te leer om te vergewe en om lief te hê. Hulle leer ons om te vergewe want hulle doen dom goed, en ons vergewe hulle maar. Hulle leer ons ook hoe om onvoorwaardelik lief te wees. Honde is lief vir ons maak nie saak wat nie, en ons is net so lief vir hulle.

Dit was baie mooi woorde gewees, maar dit het nie gehelp nie. Eintlik het ek baie erger gehuil daarna.

My ouers se hondjies

My ouers het op hierdie stadium drie honde – een reun en twee tewe. My ouers is baie lief vir hulle hondekinders.

Hier is die honde wat my ouers nou het

My ma behandel die honde soos mense, veral met die manier waarop sy met hulle praat. Byvoorbeeld, as sy wil hê die hond moet uit haar pad uit kom, sal sy nie sê (of skree) “uit” of “loop” nie – jy weet, soos ʼn normale mens nie. Sy sal iets sê soos, “Kom nou liefie, mamma is haastig.

Een keer het sy oorskiet tee vir die honde uitgegooi en gesê, “Drink dit, dit het anti-oksidante.” Eerstens, hulle is honde, hulle verstaan nie. Tweedens, selfs al het hulle verstaan dink ek nie hulle is te gepla met anti-oksidante nie.

Die honde is baie lief vir my ma, en hulle volg haar baie rond. Dis seker omdat sy gewoonlik die een is wat vir hulle kos (en soms tee) gee.

Gepraat van, as jy dink ʼn boerboel eet baie, moet jy sien hoe vreet ʼn Labrador. Nina eet enigiets, en baie daarvan.

En natuurlik, wat ingaan moet uitkom. Op ʼn stadium het Nina haar besigheid net op ʼn sekere plek in die tuin gedoen. Die plek was reg voor my ouers se slaapkamer venster. Dit het so erg geraak dat hulle pellets daar op die gras moes sit, sodat sy haar besigheid elders moes doen.

Hulle is baie lief vir ons

Ek onthou toe ek nog by my ouers gebly het, was die honde so bly om ons in die oggende te sien, veral Nina. My pa sê dis nog steeds so. Nina hardloop rond soos ʼn mal ding, en huil van blydskap. Dan loop sy ook deur elke vertrek in die huis om te sien of iemand nie dalk per ongeluk kos laat rondlê het nie.

Toe sy kleiner was, het sy op my ouers se bed gespring om more te sê, maar gelukkig doen sy dit nie meer nie, al kan sy nog steeds baie hoog spring.

My oom se hond

Ek dink nou sommer ook aan my oom Renier se hond, Jassie. Daai hond was baie lief vir hom, en hy vir Jassie. Jassie is dood presies ʼn jaar na Oom Renier, dag en datum. Hy het na oom Renier se dood Postmasburg toe getrek saam met my neef en moes buite slaap in die winter. Jy weet, Jassie het voor die verwarmer geslaap by oom Renier-hulle, so dit was ʼn groot aanpassing.

Soms het my neef Jassie saam plaas toe gebring en as hy daai deur oopgemaak het, dan gaan lê Jassie voor die verwarmer. Hy wag net dat hulle hom aansit.

Laastens

Al die honde wat ons al gehad het, het goed gedoen met hulle twee take in die lewe. Ek sal my lewe lank lief wees vir honde, al mag ek nie nou een hier hê nie.