Ek hou daarvan om oor my familie, veral my ouers te skryf, maar die waarheid is, dit was amper of ons kinders het nie bestaan nie. So, hier is die storie van hoe ons gesin begin het.

Maar eers ʼn bietjie agtergrond.

Ek het al vir my ouers gevra hoekom hulle besluit het om kinders te kry en ek was teleurgesteld met hulle antwoorde.

My ma het iets heel cheesy gesê soos: “Ek en jou pa het mekaar so lief gehad dat ons net daardie liefde met kinders wou deel” of so iets, ek kan nie presies onthou nie. Jy weet, dit was ʼn tipiese mamma-antwoord.

Toe ek my pa vra hoekom hy kinders wou hê, het hy sonder huiwering gesê, “Nou maar wie gaan al ons goed kry as ons eendag doodgaan?”

Ek maak dit nie eers op nie. My pa wou net seker maak sy aardse besittings is in goeie hande as hy die tydige met die ewige verwissel.

Soos ek gesê het, ons het amper nie gebeur nie. Baie jare terug is daar vir my ouers gesê dat hulle nooit kinders sal kry nie. Dit was lank voor al deesdae se vrugbaarheidsbehandelinge. Maar my ouers wou bitter graag kinders gehad het. My ma het toe besluit sy sal homeopatiese middele gebruik om te help.

Die homeopaat het toe vir my ma sulke kruiekonkoksie gegee en gesê sy moet dit met water meng. Hierdie mengsel sou haar kastig help om swanger te raak.

Sy het die druppels noukeurig afgemeet en by water gegooi en dit so gedrink. Eendag het sy die mengsel aangemaak, maar toe is haar aandag afgelei, ek dink die telefoon het gelui of so iets.

Toe sy weer by haar water kom, het my pa dit gedrink.

Toe ek hierdie storie hoor, vra ek my pa, “Drink pa net sommer so die water sonder om te vra wat dit is of wie s’n dit is?”

Hy sê toe, “Dis my huis.”

Hoe dit ook al sy, dit was nie lank nie en toe was sy swanger.

En hier is ons klomp nou. Dit maak nie saak of jy glo dat homeopatiese middele werk of nie, dit het gewerk vir my ouers. Nadat hulle my oudste broer gehad het, het hulle so ʼn paar maande gewag en toe nog van die druppels gekry. Toe het hulle my ander broer gehad.

Ek was seker maar die ‘oepsie’ want my ouers het nie enige homeopatiese middele gebruik om swanger te raak met my nie.