My pa ken baie jagstories en ook stories van mense wat baie planne het, maar hierdie storie kombineer hierdie twee.

My pa het vertel:

Jong, daar was ʼn ou in Botswana gewees met ʼn klomp honde. Dit was seker hier 1978 rond gewees. Dit was sommer bul honde gewees hoor, maar as jy met leeus speel kan jy nie anders nie. Hy het nooit minder as 28 honde gehad nie, want een leeu trip kan sommer tien honde afskrik. Dit was groot honde, boerboele en ander gekruisde honde met moed.

In elk geval, die ou in Botswana het geld gemaak, hoor. In daardie jare, dan koop hy in Natal ʼn leeu op ʼn leeuplaas en laat hom Botswana toe vlieg. Daar was sulke panne en hy het ʼn groot een besit. Dit was sommer groot, jy weet, 10km lank en 5km breed – ʼn soutpan.

Sy vliegtuig land daar en toe laai hy die leeu af en spuit hom in dat hy slaap. Later kom die leeu by en dan kyk hy rond en ruik die plek. Intussen het die ou met sy vliegtuig gevlieg na sy plek toe, en dan klim hy in sy bakkie. Op pad na die leeu toe skiet hy vir hom ʼn springbok. Dan gaan gee hy vir die leeu die springbok om te eet.

Later is die leeu so mak, as die ou met sy bakkie aankom, dan kom die leeu aangedraf want hy weet daar is ʼn springbok agterop die bakkie.

In daardie tyd kon hy R10 000 vra vir iemand wat die leeu wil kom jag. Onthou, in 1978 was R10 000 sommer baie geld, twee jaar se salaris vir ʼn bankbestuurder. As dit nou vir jou ʼn idee gee.

In elk geval, dan kry die ou ʼn Amerikaner vir ʼn een dag safari en hy waarborg vir hom ʼn leeu in Botswana. Dan vlieg die ou Johannesburg toe en kom haal die Amerikaner, en hulle vlieg saam Botswana toe.

Dan ry hy met die Amerikaner lang draaie, en dan natuurlik kry hulle nie ʼn leeu nie. Dan sê hy vir hom dat hy sal moet oorslaap. Maar die ou weet van die pan, maar die Amerikaner nie.

Die volgende dag so by 2uur die middag, dan sê hy, “Kom ons gaan kyk nog by een plek”. Nou het hy ʼn probleem want die leeu kan nie aangedraf kom na die bakkie nie, dis mos darem te maklik. Dan vat hy sy honde en hulle gaan jag die leeu so ʼn week voor die tyd.

So, dan gaan gooi hy die bok af, maar hy jaag die leeu met die honde. Jong, daai honde byt aan ʼn leeu as hulle genoeg is. Daar hardloop die leeu vir hulle weg. Later as die ou met die bakkie aankom en die leeu hoor die honde blaf, dan hardloop hy dat dit vrek, want hy weet hy gaan gebyt word. Wanneer dit gebeur, dan weet die ou dat die leeu reg is vir die jag.

Maar om terug te kom by die storie van die Amerikaner se jag, die man het mos vir die Amerikaer gesê dat hy weet van ʼn ander plek waar daar ʼn leeu kan wees. Hy het toe mooi vir die Amerikaner verduidelik dat dit sy enigste kans is. As hy ʼn leeu sien hardloop en hy skiet hom nie, dan het hy nie ʼn leeu nie.

Hulle ry daar aan, en die leeu hardloop weg, maar onthou, hy is nie meer so wild nie. Hy hardloop so ʼn ent weg, maar as hy sien daar is nie honde nie, dan staan en kyk hy.

Kwa! Daar skiet hy die leeu. Dan het hy nou sy leeu, en hy maak met hom wat hy wil, slag hom af en so aan. Hy betaal ook die tienduisend rand of wat ook al dit was. En dis hoe die ou sy geld gemaak het.