My pa is nie ʼn drinker nie, maar hy ken baie stories oor hoe drank lei tot slegte besluite.

My pa het vertel:

Sus, ek dink nou sommer aan ʼn storie. Oom Renier het vir ʼn outjie skool gehou en het later ook velle aan hom verkoop. Jy weet, hy het by die plek gewerk wat die velle gekoop het.

Daar in Kuruman se industriële gebied was daar groot erwe met lekker kameelbome wat nou baie geld werd is.

Eendag kom Renier daar aan en die outjie is daar. Hy sien daar staan ʼn 1974 Peugeot 404. Jong, dit was ʼn oulike, maar lelike karretjie. Maar tog het al die reps met Peugeots gery. Dit was ʼn goeie, smart kat. Dit kon vinnig ry, was goed op petrol, en soos ek sê al die reps het daarmee gery, voordat die Corollas uitgekom het.

Oom Renier kyk daai kar so en hy sien dis splinternuut. Dit was nou hier in 1995 of so. Hy vra toe die outjie oor die kar en daar verhelder sy gesig sommer. Hy sê, “Meneer, kom ek wys jou.” Die outjie wys hom die kar en dit het nie ʼn skrapie nie. Die kar word selfs onder ʼn wit laken toegemaak. Hy het die kar by sy oupa gekoop vir R2000.

Eendag kom oom Renier weer daar aan. Daar staan daardie selfde Peugeot onder die boom ingetrek en hy is lelik in sy kanon in. Daar is omtrent niks van hom oor nie – sy dak is plat en so aan. Hy vra toe vir die outjie wat het met die Peugeot gebeur wat so mooi was.

Die outjie sê, “Ai, meneer, brandewyn het nie brieke nie”.

Nou weet ek presies waar dit was in Kuruman, dis mos nou ʼn ou dorp. Daai jare was dit so, die huis se stoep eindig waar die sypaadjie ophou. Dan is dit straat.

Daar was ʼn kafee, Alma kafee, en sy stoep het op die straat geëindig. Maar die straat het so afdraande geloop, so die bokant van die kafee se stoep is gelyk met die grond maar dan word die stoep al hoër soos die gebou opgebou is om hom gelyk te kry.

Daar was sulke pilare wat op die kant van die stoep gebou is, want daar was ook ʼn tweede verdieping. En ook, die dak was nie ʼn sinkdak nie, dit was ʼn betondak. Hulle het dit seker so gebou want daar was ʼn balkon vir die mense wat bo gebly het.

Die outjie vertel dat hulle een aand daar ry. Hy was toe lekker slim en braaf met daardie Peugeot. Hy kom van bo in die straat en hy verloor beheer. Hy gaan regs en hy klim op daardie stoep en ry ʼn pilaar af. Toe is sy kar al klaar lekker in sy kanon in.

Die volgende is toe val daai beton op die kar se dak. Hy kan bly wees hy lewe, want hulle het hom met ʼn groot gesukkel daar uitgekry. Die deure van die kar kon nie oop nie. Hulle kon eers later die een agterdeur oopkry en het maar daar uitgekom.

Dis nou maar die storie: brandewyn is ʼn lelike ding.