Dit is ironies dat die meeste van ons gesin nie kan tuinmaak nie, want my ouers het albei op plase grootgeword. Wel, net my oudste broer kan ʼn plant lewendig hou, maar die res van ons is hopeloos. Die COVID-19 inperking het ons onvermoë om tuin te maak uitgewys.

My pa het probeer

My pa wou ʼn boer wees en het landbou studeer op universiteit, maar sy droom het nooit waar geword nie. Dit is eintlik ʼn lang storie.

Hy het probeer om ʼn paar verskillende gewasse in ons tuin te plant. Daar was al aartappels, aarbeie, en tamaties. Van al die probeerslae het die tamaties die beste resultate gegee.

Een jaar het hy weer tamaties geplant, maar hulle het nie uitgedraai soos hy beplan het nie. Dit was eintlik net sy eie skuld, maar ek loop nou die storie vooruit.

Kom ek gee eers ʼn bietjie agtergrondinligting.

Een van die kruidenierswinkels het In veldtog gehad om mense te kry om meer plante te plant wat bye sal lok. Dit was ʼn wonderlike idee. So, as jy meer as R200 spandeer het, dan het jy ʼn saadpakkie gekry.

In die pakkie was daar die saad, ʼn grond peul en ʼn klein koppie. Die idee was om die grond peul te vat en water by te gooi sodat dit uitrys. Dan moes jy die koppie volmaak met die grond en die saad daarin sit. Al wat jy dan moes doen is te wag vir moedernatuur om die res te doen.

Ek het probeer om omtrent tien van hierdie plantjies te plant, en dit het goed begin. Na ʼn week, het die eerste klomp ontkiem en ʼn paar sentimeter gegroei, maar toe ek hulle oorgeplant het in groter potte, toe het hulle een vir een doodgegaan. Ek weet nie wat ek verkeerd gedoen het nie. Ek het die instruksies presies gevolg.

Hierdie was my rooi klawer net voor dit ook dood is.

In elk geval, my pa het gesien dat twee van die saadpakkies tamatie plante is, en hy het hulle geplant.

Na so twee weke, het ons gesien dat sy tamaties glad nie opgekom het nie. Ek het ondersoek ingestel en uitgevind dat hy nie die instruksies op die saadpakkie gevolg het nie.

Om ʼn lang storie kort te maak, hy het die saad wat in die pakkie gekom het, weggegooi en net die grond peul geplan. So ja, hy het grond geplant en daar het grond opgekom.

Na die grondplantery fiasko, is hy winkels toe en hy het tamatie plantjies gekoop. Hulle was al klaar so ses weke oud en my pa het gedink dit sal hom tyd spaar, want hy hoef nie te wag vir hulle om te ontkiem nie.

Ongelukkig, het hy nie die etiket behoorlik gelees nie. Na ʼn paar weke het die tamaties opgekom, maar hulle was nie die normale rooi soos tamaties gewoonlik is nie. Nee, hulle was pers.

Hy het toe mooi na die etiket gekyk en toe sien hy dat hy eintlik bloubessie tamaties gekoop het. Dit is hoe hulle lyk:

Die honde is ook ʼn probleem

As my pa nie die verkeerde plante plant nie, en my plante nie doodgaan nie, dan terroriseer die honde die plante.

Hierdie boom is omtrent 10 jaar oud en dis hoe dit lyk.

Ons het eintlik gedink die boom is dood, maar hy het dit gemaak. Ek weet nie wat dit aan die boom is nie, maar die honde is so lief om die blare te eet. Dit het so erg geraak op ʼn stadium dat ons ʼn klomp pallets rondom die boom gepak het om die honde weg te hou.

My ouers het in elk geval nie veel van ʼn tuin nie, want daar is omtrent heeltyd ʼn droogte in Suid-Afrika. So hulle spaar maar water.

Hopelik sal hulle eendag weer ʼn behoorlike grasperk hê, as daar nie ʼn droogte is nie. Dan het hulle ten minste dit. Of dalk gaan die honde dit ook opvreet.