My pa het baie jagstories en dis gewoonlik die jagter wat die wild gaan uitsoek, maar soms kom vind die wild jou waar jy dit die minste verwag.

My Oom Renier het vertel:

Man, jare terug het ons in Suid-Wes gaan jag. Ons slaap daar by Twee Riviere en die Sondag ry ons deur die park en ons slaap daar by die ander kamp. Ek sê vir die ouens, “Kêrels, dis leeuwêreld en die omheining is gewone sifdraad.”

Maar ons drink brandewyn en braai, en dink nie meer daaraan nie. Dis ʼn gekuier en ʼn geraas.

Ons was net terug in Bloemfontein, toe het hulle ‘n vrou die more by Twee Riviere by die toilet, jy weet daar by die ablusie blokke, gekry. Toe sy om die hoek loop, toe is daar ʼn leeu in die toilet. Ek sou vir hom sê, “Dis oraait neef, ek het klaar gemaak wat ek wou maak. Jy kan maar die ding gebruik.” Ek dink hulle het twee dae lank gesukkel om die leeu daar uit te kry, want hy is binnekant en jy kan mos nou nie agter inkom om hom uit te jaag nie.

 

My pa het ʼn soortgelyke storie. Hy het vertel:

Sussie, ek het ʼn pel gehad, Oom Johan. Ag hy het baie dinge probeer en so gaan doen hy ʼn beroepjagterkursus. Hy gaan werk toe op ʼn wildplaas en hy het sy alie af gewerk.

Toe sien hy daar is safari’s in Botswana wat werk. Hulle betaal nie so baie nie, maar as die Amerikaners tevrede is, dan gee hulle groot tips.

In elk geval, so gaan werk hy by so ʼn safari in Botswana. Nou, die eerste trip ry hy saam met ʼn ou en kyk wat doen hy alles en hoe lyk die paaie en so aan. Die volgende trip is dit net hy.

Jong, maar jy is ʼn slaaf vir die Amerikaanse kliënte. Hulle soek baie, en jy moet spring, maar as hulle tevrede is, dan gee hulle jou sommer ʼn duisend dollar tip elkeen. Toe was die dollar nog net vier rand of so.

Hulle is daar in Botswana in met die vier by vier, en hulle ry. Die aand kom hulle by ʼn kamp naby ʼn rivier en daar is huise waar die ouens kan slaap en so aan. Nou moet jy weet daai man het daai dag gedraf vir Amerikaners. Hy het vuur gemaak, maar heeldag sê sy maag vir hom hy moet ʼn draai loop.

Toe moet hy toilet toe, en daar is badkamers so 100 tree verder. Hy het sommer heelwat beter en ligter gevoel toe hy daar klaar is. Toe hy daar uitkom, toe staan die grootste olifant in die hele Afrika tien treë van hom af, en sy tande is langer as hy.

Nou moet jy weet hy ken ʼn bietjie van die natuur – ʼn ou hardloop nie vir ʼn olifant weg nie. Maar daai ou spring daar weg en hy hardloop daardie olifant weg, die olifant het hom nie gevang nie.

Toe kom hy later agter die olifant het hom gelukkig nie gejaag nie. Dis maar sy blyplek so tussen die toeriste.