My pa het ʼn paar stories oor hoe mense hulle lelik misgis het. Soms het net trane geloop, maar soms was dit hospitaalsake.

My pa het vertel:

Ek was nog op skool en ek het ʼn paar rand êrens gekry. Ek het toe vir my ʼn blikkie kondensmelk gekoop en dit was baie waardevol op daardie plaas met soveel kompetisie. (Onthou, hulle was sewe kinders gewees.) Jy kon nie die ding laat rondlê nie, want dan drink iemand anders hom vir jou uit.

Toe drink ek daai blikkie kondensmelk, sê nou maar driekwart, en toe is ek te soet. Ek sluip toe na jou ouma se wa-kis, hierdie een wat in die gang staan, en ek maak hom vinnig oop, sit die kondensmelk binne-in en maak weer vinnig toe. Wat ek toe nie weet nie, is dat ek hom per ongeluk onderstebo ingesit het.

Toe ek weer lus is om kondensmelk te eet, toe sien ek alles het op die donskomberse in die kis uitgeloop. Toe het ouma gehuil oor haar donskomberse en ek het gehuil oor my kondensmelk.

 

Daar is nog ʼn ou waarvan my oom my vertel het, wat hom amper in ʼn graf in misreken het by ʼn jool.

Die outjie, De Beer, was in dieselfde koshuis as my oom en hy het Geologie geswot en hy het eventueel ʼn geoloog geword, maar dit was maar ʼn langtermynbelegging.

Eendag kuier my oom hom raak by ʼn jool. Blykbaar was De Beer ʼn mooi, fris en groot ou. Hy was so mooi gebou dat hulle hom goud gespuit het en op ʼn vlot gesit het. Daar was hy kastig ʼn standbeeld gewees.

Later die aand hoor die manne dat De Beer in die hospitaal is en hy is naby aan die dood. Daar vind hulle toe uit dat sy sweetgatjies verstop het, en hy kon nie sweet nie. Dis ʼn lelike ding daardie. Daar in die hospitaal het die mense vreeslik gesukkel om die verf van hom af te kry dat hy kan lewe.

 

Hierdie laaste storie wys dat drank ʼn lelike ding is. Dit gee te veel selfvertroue, maar geen verstand nie.

My pa het vertel:

Daar het die outjie, Willem, op ʼn stadium saam met my gewerk. O, hy het baie nonsens aangevang in sy lewe. Hy was sommer in standaard agt uit die skool uit en toe begin hy by sy pa se besigheid werk. So, hy was jonk en hy het al begin geld verdien – geld om mee moeilikheid te doen.

In elk geval, een dag het hy en ʼn paar pelle gedrink by ʼn plek en toe wil hy gaan fliek. Die klomp staan toe agter ʼn Asiese seun, ʼn Sjinees, in die ry om ʼn fliekkaartjie te koop. Met drank in sy gat is Willem baie braaf en hy begin die Sjinese seun terg. Jy weet, hy trek gesigte en ‘praat’ soos hy. Die seun het hom so gekyk en gesê hy moet ophou.

Natuurlik, hoe meer die seun sê hy moet ophou, hoe meer hou Willem aan met sy getergery. Op ʼn kol draai daardie seun om en hy slaan vir Willem so teen sy nek en daar val hy.

Hy lê daar op die vloer en is heeltemal by, jy weet, hy weet wat aangaan, maar hy kan nie beweeg nie. Hy is heeltemal verlam, hy kan net lê.

Die mense in die ry het dit natuurlik vreeslik geniet, want hulle het mos gesien hoe treiter hy die kind.

Toe Willem later weer regkom en krag het om op te staan toe het hy sommer nie meer lus om te fliek nie. Hy het sommer huis toe geloop.