My pa-hulle se huis het ʼn spookkamer gehad, maar hy het ʼn storie gehoor van mense wat dit baie erger as hulle gehad het.
My pa het vertel:
Ou sus, ek het die storie baie jare terug gehoor. Die man en sy vrou het ʼn plaas naby Senekal geërf wat hulle verhuur het aan mense. Hulle gaan kuier toe een Desember daar. Nou sit hulle buite op die stoep en dis vreeslik warm. Hulle drink toe seker ʼn biertjie of so.
Daar op die stoep staan so klein trap-orreltjie en hy vra die ou oom (die huurder) daaroor. Die oom sê hy kan hom kry as hy wil. Hy sê, wag, hy wil eers kyk.
Toe hy daai orreltjie se deure oopmaak toe het hy selfs in daardie Desemberhitte so ʼn yskoue rilling teen sy rug voel afhardloop. Dit was ʼn aardige gevoel, hoor.
Die oom vra toe, “Wil jy nog steeds die orreltjie hê?” Hy sê toe hy weet nou nie meer so mooi nie.
Die oom vertel toe dat daar in die orreltjie ʼn ding bly, omtrent so drie voet hoog, so swart gestalte, met sulke lang naels – ʼn gedrog. Maar hulle het hom nie sommer net gesien nie, maar as hy en die tannie in die aand lê en slaap dan kom die ding en trek die komberse af.
Hulle het die verdomde gedrog later so goed geken dat hulle sommer vir dit sê, “Nee, uit hierso!”
Jy weet die ou huise was so gebou dat die deurkosyne so opgebou was met ʼn plankie onder by die kosyn. Dit was nie gelyk met die vloer nie. Dan sit hulle in die slaapkamer en dan kom staan die gedrog dat sy tone met lang naels so oor die hout deurkosyn gehang. Dan sê die oom vir die ding, “Ek vat die sambok en slaan jou!” Dan hardloop die ding weg.
Maar ja, soos ek sê, die ding verskyn net. Hy het hulle nie te veel gepla nie. Hy het hulle so gestaan en kyk, en hulle komberse afgetrek, en dan jaag hulle hom weg. Hulle het so gebly vir lank – blykbaar ʼn paar jaar.
Toe op ʼn kol besluit hulle om maar van die gedrog ontslae te raak. Hulle kry toe ʼn slams, waar weet ek nie. Onthou, ek vertel hierdie storie omtrent dertig jaar nadat ek dit gehoor het.
In elk geval, toe kom die ou en dryf die ding uit. Ek weet nie presies wat het hulle gedoen nie, maar dit ding is uitgedryf. Dit was in die middel van die winter en bitter koud gewees toe hulle dit gedoen het.
Daai aand sit hulle in die huis en toe staan die gedrog daar buitekant in die koue, maar hy huil vreeslik treurig, en hy skree sommer so.
Toe sê dit tannie, “Foeitog, moes ons nie tot die somer gewag het voor dat ons hom uitgedryf het nie?”