My pa het vir ons baie stories vertel toe ons klein was. Daar was Klein Duimpie, Jakkals en Wolf, en ʼn storie van die meerkatte op die plaas. Hierdie is een van daardie stories wat my pa vir ons vertel het, en ek dink hy het dit maar opgemaak soos hy aangegaan het.

My pa het vertel:

Die outjie het hier by Beaufort-Wes of Laingsburg in die Karoo gebly. Hy het ʼn vreeslike pa gehad en hy het die kind vreeslik verniel.

Nou, die seun en sy sussie het by hulle ma en pa gebly. Daardie tyd was die erwe nog groot gewees. Toe het hulle daar hoenderhokke en ʼn vye boord, met twee groot vyebome, gehad. In daai wêreld groei daar niks nie, maar vye hou van warm, droë weer. Jy weet, hulle kan die son vat en hulle het pragtig gedra.

Toe het die outjie se pa besluit, seker so van standerd vier af, hy moet na die vyebome kyk. So as daar ʼn begrafnis, troue, of voetbal is, dan gaan ma, pa, en sussie, maar hy moet by die huis bly en die vyebome oppas. Dis nou veral as die vye begin uitswel en ryp word, dan moet hy die voëltjies wegjaag dat hulle nie die vye eet nie. Dis elke jaar omtrent twee maande lank wat hy nie eers een dag iewers heen mag gaan nie, want hy moet die vyebome op pas.

Toe het hy later die vyebome gehaat, en vye ook gehaat.

Jong, en so word hy groot. Hy moet net vyebome oppas en voëltjies wegjaag. En sy pa verniel hom al hoe meer en sy sussie word voorgetrek. Toe hy in die hoërskool kom, toe is die vyebome al mooi groot en die voëltjies al meer, want die kos is al minder. En al die voëltjies vertel mekaar van daardie vyebome. Hulle moes maar 5uur in die oggend gou ʼn vy gaan pik het, want verder in die Desember vakansie was die outjie voor son op en tot sonsondergaan besig om voëltjies te skiet.

Jong, toe een Juniemaand, toe hy seker so standerd agt is, toe kry hy ʼn werkie by die koöperasie, en daar kry hy ʼn nare plan. Toe hy daardie maand klaar gewerk is, toe koop hy so ʼn 20 liter kan gom. Dis daardie taai gom, taai soos super glue – as jy aan hom vat dan sit jy. Hy bêre dit toe, dit is vir later.

Die Desembervakansie kom weer, en die vyebome moet opgepas word. Ma, pa, en sussie is in die huis onder die waaier, en hy is heeldag by die vyebome.

Een Saterdag in daardie vakansie is daar ʼn troue, maar hy mag nie gaan nie, want hy moet die vyebome oppas. Sy ouers en sussie gaan twee-uur die middag troue toe, en hulle sal seker eers laat die aand terug wees. Hy moet weer die vye op pas. Jong, maar sy pa weet nie van sy plan nie.

Die stof het nog nie eers gaan lê agter sy pa se kar nie, toe gaan hy vyebome toe met daai kan gom. Hy besmeer daardie bome met die gom. Hoor hier, elke tak en blaartjie is van die gom, totdat daai kan leeg is. Daar is nie ʼn plek aan daai twee bome waar daar nie gom is nie.

Daar loop hy toe, hy pas nie meer die vye op nie. Jy weet, ʼn voëltjie is ʼn simpel ding. Hy kom sit eers, nie by die vy waar hy kan bykom nie, maar hy kom sit eers en kyk die storie uit en dan spring hy na ʼn vy toe. Dan kom sit die voëltjie, maar sy voetjies sit vas. Dan vlieg daar ʼn ander voëltjie verby en sien hier sit ʼn voëltjie, en dan sit hy ook.

Jong, en muisvoëls, en dis nou regtig so, vlieg in sulke troppe. Al daai voëltjies wie se voete vassit, roep die ander, die hele Beaufort-Wes se voëltjies. Hulle roep nie net muisvoëls nie, maar mossies, geelvinkies, ensovoorts. Daardie bome krioel later van die voëltjies. Jy kan nie meer ʼn vy of ʼn blaar sien nie, jy sien net voëltjies.

Die seun sien die voëltjies, en dat daar nie meer plek is vir nog nie. Toe gaan haal hy ʼn sambok en hy besluit hy sal die voëltjies vandag ʼn les leer dat hulle nooit weer vir ʼn vy sal kyk nie.

Hy begin toe slaan met daai sambok. As hy reg slaan, dan slaan hy sommer ʼn voëltjie dood. As daar ʼn hou val dan sien daai voëls hierdie man het nie speel in gedagte nie, hy het moord in sy oë. Hulle sien toe hy gaan nie ophou nie, en hy slaan al hoe rowwer, toe wil al daai voëltjies met alle mag vlieg.

Nou staan hulle later so met hulle beentjies reguit getrek en hulle vlerke klink soos helikopters. Met elke hou wat geslaan word, raak die helikopters harder.

Toe hy weer so slaan toe trek daai voëltjies die vyebome altwee uit die grond uit en daar vlieg hulle met die vyebome weg.

Nou kan jy dink wat het die pa gesê toe hy by die huis kom en daar is twee gate in die plek van sy vyebome.