My pa was nog altyd baie lief vir diere, seker maar omdat hy op ʼn plaas groot geword het. Hy het baie troeteldiere gehad deur die jare, maar oupa was nie ʼn aanhanger van al sy troeteldiere nie.

My pa het vertel:

Jong, my pa het nou nie ʼn jakkals verdra nie, hoor. Hy het hulle sommer geslaan as hulle klaar dood is.

Ai, ek en oom Renier het baie jakkalse vyfuur in die oggend op Nuwejaarsdag gaan voorlê. Dan skiet ons en ons het nogal ʼn paar geskiet. Maar in elk geval, my pa het nou nie van ʼn jakkals gehou nie.

Jy weet, ʼn wyfie jakkals trek sommer in ʼn erdvarkgat in en bly daar, of kry kleintjies daar. Een keer het ons ʼn gat gekry en daar grawe ons twee klein jakkalsies uit. Die ma was klaar doodgemaak.

Toe besluit ons die twee arme ou goedjies is mos net dom jakkalsies en hulle word huis toe gebring en met ʼn tietiebottel grootgemaak. Hulle ogies was nog nie eers oop nie.

Toe het hulle daar grootgeword en ons het met hulle gespeel. Maar hulle moes in ʼn hok wees. Weet jy, hulle wil net uit daardie hom uit kom. Hulle neuse was eintlik skurf soos wat hulle by die draad omdraai.

Hulle het natuurlik op ʼn manier uitgekom, ek weet nie hoe nie, maar hulle het ʼn manier gekry om te ontsnap.

Die tweede aand wat hulle uit was, toe vang hulle hoenders want hulle wil eet. Hulle was toe nog dom jakkalse want hulle vang die hoenders en dan hardloop hulle nog daar op die werf rond.

My pa het hulle so gekyk en vir jou oom Ben gesê hy moet van hulle ontslae raak. Ek dink ons het hulle velle ook verkoop. Ai, dit was swaar vir my.