In die Kalahari noem hulle ‘n luiperd, ‘n tier. Ek weet nie hoekom nie, maar my pa het ‘n paar stories oor tiere en hulle kaskenades.

My pa het vertel:

Jou oom Renier het een keer gaan jag daar by Van Zylsrus. Toe ry hy twee-uur die oggend terug en daai pad ry so in Kurumanrivier tussen die kameelbome deur.

Jong, ʼn bobbejaan loop nie in die nag nie. Hulle slaap op die kranse en daar in die Kalahari slaap hulle in die kameelbome. Al wat ʼn bobbejaan regtig pla is ʼn tier of ʼn luiperd, maar ons noem hom ʼn tier. Ons het so groot geword, dis ʼn tier.

In elk geval, oom Renier ry so, en toe hy weer sien, kom daar bobbejane verby gehardloop daar in die ligte van die kar. Dit was soos Oom Kaspaas dit geteken het – die bobbejaan hardloop so vinnig dat hy sy hoed eintlik moet vasdruk.

Toe is dit vir hom baie vreemd, maar hulle is daar verby. En so ʼn week daarna kry Oom Renier ʼn outjie in die dorp wat daar boer en hy vertel hom die storie.

Hy sê, “Oom, dis ʼn tier.” Hy vertel toe dat daar ʼn tier by hom op die plaas rondloop. Toe het die tier die bobbejane gaan hark daar uit die bome uit, want hy vreet hulle. Jy weet, hy kan mos boom klim.

Toe daai bobbejane sien die tier roer hier onder rond, toe spring hulle af en hardloop daar in die donker. Nou moet jy weet hoe hardloop hulle teen alles vas teen daai helse spoed, maar as ʼn tier agter jou is, gee jy seker nie om nie.

Ou sus, ek dink nou sommer aan ‘n ander storie. Kyk, oom Erik het so leeus gekoop en dan hou hy hulle daar aan op die plaas en voer hulle hoenders, beeste en bokke en so aan. Maar hy hou die leeus in hokke. Hy het daar so ʼn 200 hektaar kamp. Dan kom ʼn leeujagter vir iets belanglik soos R300 000. Dan laat los hy daai leeus in die kamp.

Die volgende more word die leeus gesoek. Dan skiet die ou die leeu en hy is vreeslik in sy skik en hy betaal.

Maar toe kry oom Erik ʼn tierjagter. Jong, ek weet nou nie vir hoeveel geld nie, maar sit was sê nou maar ook R100 000, of selfs meer wat die jagter betaal. Hy het die luiperd vir sê nou maar R50 000 gekoop en hom in ʼn hok gehou vir die tierjagter. Maar ʼn tier is fly, hoor. Die ooreenkoms is dat die ou darem die luiperd moet skiet.

Daardie aand word die tier in die wildkamp gelos. Onthou, dis ʼn mooi groot kamp met ʼn goeie heining. Die volgende oggend begin hulle en die honde vat spoor.

Ou sus, lyk my die tier het geloop tot by die draad en die draadjie so gekyk en gedink, “Wat dink hierdie manne van my?” en daar het hy oor die draad gespring.

Toe hulle sy spoor vat die volgende oggend toe is daai tier seker al in Botswana. Toe het oom Erik lelik ʼn wind gesluk.