Hierdie blog vertel baie stories van kattekwaad in die Kalahari. Soms was daar self buitelanders ingetrek in die kwaaddoenery.

My pa het vertel:

Het ek jou al die een van kokketiel vertel? Kom ek vertel jou maar, dan kan jy sê. Oom Renier het mos die stout pel gehad, Erik. Die een keer gaan jag hulle daar by oom Erik. Hy, Koos, Karel, sy broer, en André, hulle het baie wild in Botswana gesteel en biltong gemaak. Dan het hulle dit in André se slaghuis verkoop, en hulle al drie het plase gekoop met die geld – regtig.

Jong, dan lê die ouens hulle voor en die manne is bang vir die tronk. Dan is die vleis al gesout en in 44 geling dromme toegemaak. Dan kan hulle dit nie bewerk nie, want hulle moes dit in Botswana los. As hulle weer daar kom, het die drome gebars en die vleis vrot geword.

Maar in elk geval, hulle het die wild geskiet in Botswana, en dan ry hulle dit na André se plaas daar in die Kalahari. Dan maak hulle die biltong daar en verkoop dit uit sy slaghuis uit. Jong, die ouens het daar wild gesteel.

Maar in elk geval, nou Karel en Koos was groot kwaaddoeners gewees. Nou vertel jou oom Renier vir my dat Erik vir Karel ʼn gemsbok present gegee het, hy moes net die gemsbok kom skiet, maar jou oom Renier was nie by vir dit nie.

Nou kom Karel daar, en nou ry hy en ou Erik, en sommer daar naby die huis kry hulle die gemsbokke. Toe sê oom Erik vir hom, skiet hom agter die blaaie, moenie ʼn kopskoot skiet nie, want jy gaan hom kwes.

Nee, besluit Karel, hy skiet kopskote. Hy mors nie met vleis nie. Kwa! Almal hoor die skoot, maar daar hardloop die bok nog. Dit was ʼn helse gesukkel om die gemsbok doodgeskiet te kry. Maar nou ja, hulle het dit toe later reggekry.

Maar daar het ʼn Franse outjie kom kuier by Erik. Sy ouers het ‘n paar keer daar gejag en toe later het hulle groot pelle geraak. Hulle seun kom kuier toe daar. Hy kom bly sommer drie maande op die plaas en kyk hoe lyk die boerdery. Sy naam was Louie, en hy kon nie ʼn woord Afrikaans verstaan nie. Toe leer oom Erik se seuns hom Afrikaans praat.

Nou, tannie Maria, was die kinders se ma, en sy was nogal saam met my in die klas. Sy het belangrike mense uit die Kaap wat kom kuier het. Nou sê sy vir hulle, “Louie het al mooi Afrikaans geleer”.

Dis vroeg in die oggend en Louie kom daar aan. Tannie Maria sê vir die mense, “Hoor nou”. Sy sê, “More Louie, hoe gaan dit met jou?” Hy sê, “F#kken goed tannie Maria, en met tannie?” Maar in elk geval, dis nou die Afrikaans wat hy daar op die plaas geleer het.

Louie het sy hare so opgeskeer (ʼn mowhawk). Nou kom Karel daar aan, maar Louie verstaan hier en daar iets, maar nie alles nie. Karel roep hom kokketiel. Kokketiel hier en kokketiel daar, en dan lag die ouens en Louie kom agter Karel spot met hom.

Toe het hulle gaan jag en Karel het die bok gekwes, toe het almal natuurlik geskinder oor Karel se skietery en so. Die aand is Karel al getrek daar by die braaivleisvuur. Elkeen drink ʼn dop maar Karel praat nie veel nie. Hy los vir kokketiel uit.

Nou moet jy weet Kokketiel is 22 en Karel is 60. Natuurlik het hy gehoor van die kwes, en hy sê in sy Afrikaans, “Karel?”

“Ja, kokketiel?”

Hy sê: “Karel geskiet, kopskoot, k@k skoot.”

Toe is Karel darem die moer in vir hom.