My pa is nog altyd ʼn diereliefhebber, maar waar kom hierdie liefde vandaan? Ek dink dis seker maar omdat hy op ʼn plaas groot geword het. Die plaas was in die Kalahari, so daar was seker ook nie veel anders om te doen as diertjies grootmaak nie.

As ʼn kind het hy baie troeteldiere gehad, soos ʼn valk byvoorbeeld, wat ek dink was baie cool. Hy het ook perde, jakkalse, baie honde, katte, bokke, en ʼn pou, gehad. As die spesie in die Kalahari kon oorleef het my pa se familie heel waarskynlik dit op een of ander tyd as ʼn troeteldier gehad.

My pa het sy liefde vir diere ook in sy grootmenslewe ingevat. Ten minste een keer ʼn jaar bring hy een of ander klein, wilde diertjie huis toe. Daar was al ʼn skilpad (voor my tyd, gelukkig), baie duiwe, ʼn krimpvarkie, en ʼn houtkapper, om net ʼn paar te noem.

Toe ek hom vra hoekom ek hy dit doen en hy het gesê, “Ek wou hê julle moet sien hoe lyk die diertjies van naby af.” Ek is self ʼn diereliefhebber, maar ek hou die wollerige tipe.

Pa se duifie

My pa het op ʼn keer ʼn duifie huis toe gebring. Dit was ʼn paar jaar terug en ek het my pa gevra wat hy daarvan onthou.

My pa het vertel:

Ek het mos die duifie daar naby my werk in die pad gekry. Toe het hy nog nie eers donsies gehad nie. Hy het daar uit die nes geval en toe ek nader kom, toe lig hy sy stertjie vir my. Toe bring ek hom hier. Jy en jou broer was vreeslik kwaad, en daai duifie het mooi groot geword, en vere gekry en alles.

Hy het in ʼn boks hier in die agterste kombuisie gebly (dis eintlik die waskamer). Ek weet jou broer het die duifie gehaat, want dis mos ʼn vuil diertjie.

Die duifie is toe op Kersdag daai jaar dood, seker maar van eensaamheid. Jou broer het gesê hy is bly my verdomde duifie is dood.

Die broodaltaar

ʼn Paar jaar terug het my ma gekla dat die voëls, veral die duiwe, die honde se pellets geëet het. Hulle het die honde se kos buite gehou, want die honde was meeste van die tyd buite.

Ek het gesê dat ons die honde se bakke in die garage moet hou, maar nee, dit is mos te maklik. Dit was toe dat my pa voorgestel het dat die voëls se aandag afgelei moet word van die honde se ‘lekker’ kos.

Hy het toe besluit om vir die voëls brood aan die teenoorgestelde kant van die huis te sit as wat die honde se bakke was. Op die manier sou die voëls eerder die brood as die hondekos eet.

Dit is toe hoe die berugte broodaltaar tot stand gekom het. Vrywaring: ons het nie meer die broodaltaar nie – my pa het eindelik tot sy sinne gekom ʼn ruk terug.

Maar vir daai paar maande het dit gelyk asof ons die voëls aanbid.

Soos jy kan sien in die foto, was daar ʼn stoel bo-op ʼn tafel om seker te maak die brood was uit die sig en bereik van ons Labrador (wat altyd honger is). Dit was nie erg genoeg dat ons brood vir die voëls gegee het nie, maar boonop dit was verhewe op hierdie struktuur wat te veel gelyk het na ʼn altaar.

My broer het op daardie stadium vir my pa gevra hoekom sit hy nie net die brood in die boom wat ʼn paar tree daarvan weg was nie. My pa het toe gevra, “Nee, hoe sal dit lyk?”

Die broodaltaar het gewerk.

Maar ek lieg.

Dit het eintlik die voëlprobleem aansienlik erger gemaak. Die voëls het geweet dat my pa elke middag vir hulle brood gee en toe vertel hulle vir al hulle maatjies. Ek meen, hoekom sal hulle nie na ons erf toe kom nie. Ons behandel hulle soos gode.