My pa het ʼn probleem met Engels. As ek eerlik is, dis nie heeltemal waar nie.

My pa het nie net ʼn probleem met Engels nie (dit is immers sy tweede taal), maar hy het ook gehoorprobleme. Hierdie gehoorprobleme is veroorsaak deur die jaar of so van diensplig toe hy ʼn kanonnier was. In daardie tyd was oorbeskerming ʼn ‘geldmaakstorie’ en nou het hy probleme met sy gehoor.

Maar ek dwaal nou van die storie af.

Wanneer my pa TV kyk, sukkel hy om by te bly met die storie as die mense te vinnig Engels praat. Hy is mal oor Amerikaanse TV reekse, veral die wat te doen het met die gereg, kriminele en politieke dramas. So as ons ʼn reeks saam kyk (ons het altyd Suits saam gekyk) dan kyk hy die storie saam met ons in stilte en dan as daar ʼn advertensiebreek kom, dan sit hy die klank af en sê, “Verduidelik nou vir my wat het gebeur.” Dit het elke keer gebeur en dit was baie snaaks gewees.

Programme moet geloofwaardig wees

My pa haat stories wat nie regtig kan gebeur nie. Enigiets wat Sci-Fi of fantasie is, kan hy nie kyk nie, en hy haat veral stories oor maanmannetjies.

Blykbaar het hy geen probleem met rolprente waar die diere praat nie (want dit kan sekerlik gebeur, nie waar nie?). Deesdae hou hy baie van realiteitsprogramme. Hy kyk baie Pawn Stars en Storage Wars. Ek wil nie sy babbel bars nie, maar ek betwyfel die geloofwaardigheid van daardie programme. Maar weereens is ek van my storie af.

Een dag het ons gepraat en my broer het gepraat oor die programme wat hy kyk. Goed soos Game of Thrones en so aan. Toe klim my pa op sy perdjie oor hy wat niks kyk wat nie in die regte lewe kan gebeur nie. En dit is wat gevolg het:

My pa: Hoekom kyk jy hierdie nonsens (soos Game of Thrones) wat nie in die regte lewe kan gebeur nie?

My broer: Hoekom kyk pa die lotery trekking?

My pa het hom ʼn vuil kyk gegee.

Kom ons wees realisties

Daar is so baie heruitsendings op Suid-Afrikaanse publieke televisie, so een aand het ons ʼn heruitsending van Marmaduke (ʼn kinderfliek oor ʼn hond wat kan praat) gekyk. Ons het ʼn toneel gekyk waar Marmaduke se eienaar sy lewe waag om die hond te red.

My pa het hierdie gesien en gesê, “Ag asseblief, ek sou ook ʼn hond red wat kan praat!”

Slaap voor die TV

Behalwe dat my pa snaakse goed sê, is een van my pa se ou-man gewoontes om op die bank voor die TV aan die slaap te raak. Hy doen dit omtrent elke aand.

ʼn Paar jaar terug het ons vir my pa ʼn travel pillow gekoop sodat hy gemaklik op die bank kon slaap, maar hy het dit nie regtig gebruik nie.

Dit gebeur gewoonlik na die nuus. Hy sit net sy voete op die klein tafeltjie en dan vou hy sy arms oor sy bors en raak so aan die slaap. Sy kop hang so eenkant toe en soms hang sy mond ook ʼn bietjie oop.

Ek het nooit gedink dis vreemd nie, totdat een van my vriendinne gesê het dis vir haar snaaks.